Ek is lief vir my beskuitjie in die oggend en dan weer by 15h00 middag koffietjie. Maar deur die jare sien mens al hierdie dieete wat verby kom en weer ‘n stille dood sterf. Eending is verseker mens kan nogsteeds gesond eet en op ‘n natuurlike manier jou dieet aanvul.
Ek gebruik deesdae gemaalde roulynsaad (Milled Flaxseeds) in my beskuit resepte. Hierdie sade is baie ryk aan Omega’s en verder wanneer dit vog kry swel dit uit. Dus voel jy gouer versadig deur hierdie wonderlike saadjie jou dieet in te sluit. Ongelukkig as jy dit in die onverwerkte formaat gebruik kan die omga’s nie ten volle ontsluit word en jou liggaam absorbeer nie soos wat dit moet. In die gemaalde vorm (jy kan self die sade tuis fyner kap) is die olie ontsluit en kan dit dadelik in die spysverteringstelsel absorbeer word.
Nog ‘n belanrike feit van omega’s is dit verskaf elektriese geleiding tussen die breinselle…ja, hoeveel keer het ons nie al goed vergeet en kan nie onthou waar ons dit gesit het? Wel, omega’s help met dit. Verder voorkom dit hartvatsiektes en help ons are mooi skoon hou van aanpaksels wat later ander slegte gesondheids toestande tot gevolg kan hê. Dus eet jou liggaam gesond!
Tekstuur probleme?
Onlangs het ek die navraag gekry van beskuit wat baie hard uitkom. Wel, paar dinge kan fout wees. Begin om na jou rysmiddel te kyk. Ek sit altyd koeksoda as veiligheidsnet in al my gebak. Vir elke 1kg meel wat gebruik word sit ek 5ml Koeksoda by. Ek bly weg van Bruismeel omrede ek al paar keer probleme gekry het. Op die blog het ek vir julle ‘n resep op gesit om jou eie te maak. Loer gerus.
Die tweede probleem vir ‘n harde beskuit is die margarien wat jy gebruik. Onlangs ontdek ek dat ‘n lid gewone broodjie smeer gebruik. Jy kan net bak margariene gebruik, daar staan op die baksteenagtige blok “bake”, Rama of Stork werk vir my persoonlik baie goed. Maar botter bly die beste.
Wanneer ons na die derde faktor gaan kyk wat die tekstuur van beskuit kan beinvloed dan is dit die karringmelk wat gebruik word. Amasi is puik want dit is suurmelk en suurmelk is Karringmelk soos ons dit deesdae ken. Oor hierdie punt sal ek ook nog ‘n artikel skryf, want wat ons as karringmelk koop is suurmelk, ons word deur die mark gekondisioneer om verkeerd te leer. Terug by die punt, ek vind dat mense asyn by melk gooi en dan het jy karringmelk, jong nie eintlik reg nie. Jy moet die melk eers verhit, dan die suur by gooi, dan skei die melk dan het jy suurmelk. As jy dit nie so doen nie gaan jou beskuit soos ‘n baksteen wees en nie eens die koffie of tee waarin jy dit doop gaan dit sag maak as dit ‘n volkoring beskuit is.
Maltabella beskuit variasie: vervang 200g van die koekmeel met Maltabella pap meel.
Resep
500g Botter of Bak margarien 80% vetinhoud
400g Treacle sugar (sagte bruinsuiker)
2 Eiers geklits
500ml Karringmelk
1kg Koekmeel
20ml Bakpoeier
5ml Koeksoda
5ml Sout
200g Allbran flakes
75g Semels
120g Roulynsaad gemaal of 90g heel roulyn sade (Flax seeds)
90g Neute van keuse of Rosyne of enige gedroogde vrugte
50g Klapper
Metode:
1. Smelt die botter en sagte bruinsuiker saam en laat dan afkoel tot lou warm.
2. Klits die eier met die karringmelk en roer by die margarien mengsel.
3. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg die res van die droeë bestanddele by en meng goed deur.
4. Voeg nou by die droëe bestanddele die karringmelk mengsel en roer totdat al die bestanddele goed gemeng is. Moenie te veel meng nie, jy wil nie gluten ontwikkel nie. As jy te veel meng gaan jou beskuit sy krummelrige tekstuur verloor. As daar nog wit dele sigbaar is, nie te kommer…dit moet so wees.
5. Druk in 30×40 cm pan of twee oondpanne. Sny die vingers vooraf en bak by 180℃ vir 45minute. Half pad met baktyd draai die panne om sodat dit eweredig bruin kan bak.
6. Laat goed afkoel en sny die vinger binne in die pan. Keer uit. Voer jou oond aan die onderkant met foelie uit. Pak dan die beskuit op die draad rakke van die oond uit en droog by 100℃ vir ongeveer 3-5 ure afhangende van die area waar jy woon. Onthou om die oond deur op ‘n skrefie oop te hou sodat die vog kan ontsnap. Kus gebiede neem langer. Laat vingers goed afkoel voordat jy verpak.
Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016
Hoeveelheid: 66-70 vingers
Annelien, dankie vir die heerlike resep! Op 60 jarige ouderdom verlaat ek my land SA om in die vreemde by die kinders in Amerika te woon. Alles nuut en vreemd en my beskuit resep was ek oortuig gaan nooit weer die selfde smaak nie. Toe kom ek op jou af en vandag smul ek aan hierdie lekker beskuit van jou en kan nie wag om al die ander te probeer nie. Kry nie altyd alles hier wat ek aan gewoond is nie maar gaan nie dat dit my onder kry nie.
Hallo Antoinette Venter. Indien jy ooit vasbrand in Amerika met resepte en bestanddele epos my sodat ek jou met paar SAkaners in Amerika in kontak kan bring wat baie bak en kan raad gee. Geneit dit ander kant die water en jy moet die nuwe avontuur omhels. xxx Annelien
Dankie Annelien, dis nou net die suid afrikaanse gasvryheid wat ek so mis!
Alle SAkaners oorsee mis dit. Maar moenie kommer, met BKT sal jy altyd tuisvoel. Groete Annelien
Het dit gebak en dit is heerlik!! Baie dankie! Henriette
Hallo Henriette, baie dankie vir die wonderlike terugvoering. BKT groete Annelien
Dankie vir jou breedvoerige byskrywe by die resepte. Jy maak ons mooi slim. Ek het so paar maande terug uit die bloute besef dat koeksoda mos net die pannekoekdeeg ligter kan maak. Sowaar, sedertdien kom dit die beslag as ma en haar sus vir die kerk moet maak en selfs as ek vir hulle lepelvetkoek bak met kitsgis. Nou kan ek se dit is nie my idee nie, die voedsel wetenskaplike se so dan kan niemand neusoptrek oor die gedagte nie. As hulle eers geproe het sal hulle nie spyt wees nie. 😀
Hallo Roland, dit klink heerlik. Loer na die nota’s vir Suurdeeg wat ek destyds vir jou gestuur het vir die Suurdeeg wafel resep. Daarin het ek ook die aanduiding vir suurdeeg pannekoek en plaatkoekies gegee…so ek verstaan maar net te goed hoe heerlik dit is. Geniet en groete tuis. Annelien Pienaar
Dankie vd resep, gaan dit probeer. Bly in
Kanada en sukkel om my beskuit reg te kry.
Gaan eerder eie bruismeel maak soos jy se.
My beskuit sover rys nie mooi en is harderig.
Anita, ek het gevind toe ek in Kanada gewoon het om die pastry flour of all purpose te gebruik. Verder moet jy dan ook kyk na die karringmelk wat jy gebruik. Jy kan dalk opt vir ‘n baie dik joghurt en dan verdun soos vir karringmelk. Verder sal jy vir my moet kyk om jou rysmiddel aan te pas as hierdie resep nie na wense reageer. Ek het wel paar Kanadese Twisters wat wel reg gekom het met hierdie self gemaakte resep. As ons nie weer praat, dink ek voeg by elke koppie bruismeel wat jy self maak ‘n kwart teelepel koeksoda en ook ‘n half teelepel bakpoeier by. Ek glo dit sal die oemf terug sit in jou beskuit sonder om enige nasmake te gee. Die hoogte bo seespieel speel ‘n geweldige rol.
Groete Annelien
Ek wil graag weet wat kan ek doen om te verhoed dat my beskuit so donker is na ek gedroog het Ek droog op 90° vir 2.5 ure Het jy vir my advies asb
Hallo Catherine, kan jy vir my aandui of dit gas of elekties is. Hoe hoog word jou panne gesit in die oond. Maak seker jy toets ook jou temperatuur met ‘n eksterne oond termometer soos in my aanlyn winkel gesien. Dit sal jou gou ook help om te weet of die oond korrek is met temp. Verder dui aan of die beskuit net aan een kant brand en of oral oor?
Groete Annelien Pienaar
Beste Annelien ek geniet so jou resepte en verduidelikings. Sal graag verneem hoe om jou eie bakpoeier te maak. Baie dankie
Groete
Annemaree
Annemaree,
Hierdie raad is in my Boerekos met ‘n TWist kookboek! Loer asb onder hoofstuk 4 se Nuttige inligting.
Groete Annelien
More Annelien kan jy groot asb ook die notas van die suurdeeg stuur.
Beste Annetjie, jy kan my via die klas se epos adres wat jy ontvang het toe jy die klas bygewoon het kontak om die nota’s te bekom. Ongelukkig net vir kursusgangers beskikbaar.
Groete
Annelien