
Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)
Twee van my persoonlike gunsteling soet bederfies is ‘n kombinasie van Sjokolade en Karamel. Onlangs hierdie mousse resep vir nagereg gemaak en later so gesit en dink dat dit ook as ‘n vulsel gebruik kan word vir koeke. Hand aan die ploeg geslaan en getoets en wel, dit het ongelooflik goed gewerk. Lees asb elke liewe woord van hierdie resep. Dit is effens tegnies en as jy die teks nie mooi gelees het…wel, en jy mis die les…..connect the dots yourself! Lekker bak en glo my, een van die beste koeke uit my BKT toetskombuis in maande…soos die Filistyne dit gestel het.
Sjokoladekoek
280 g (2 k) koekmeel, gesif
400 g (2 k) wit suiker
knippie sout
20 ml (4 t) bakpoeier
¼ t koeksoda
250 ml (1 k) sonneblom olie
30 g (1/2 k) kakao
250 ml (1 k) kookwater (kakao aanmaak)
5 ml (1 t) kremetart
6 eiers, geskei
10 ml (2 t) vanielje geursel
Voor verhit oond na 170 ℃ en berei twee 20 cm koekpanne voor met Koekpan smeer uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek.
Sif die koekmeel, sout, bakpoeier, koeksoda saam.
Meng die kakao met die kookwater totdat dit ‘n gladde pasta vorm.
Klits die eiergele met die suiker totdat dit wit en romerig is vir ongeveer 5 minute. Voeg nou die olie by in ‘n dun straaltjie en hou aan klits soos die olie bygevoeg word. Die mengsel moet weer lig en romerig word.
Meng die kakao mengsel by en klits weer deeglik deur. Meng nou die meel by hierdie mengsel in asook die vanielje geursel.
Klits die eierwitte totdat dit net begin skuim en voeg die kremetart by en klits totdat die mengsel styf is maar nie droog nie. Onthou met alle gebak waar daar eierwitte styf geklits moet word om altyd kremetart by te voeg om die skuim stewig en stabiel te hou…
Vou die eierwitte by die kakao mengsel in. Nou kan jy besluit op kolwyntjies of groot koeke. Bak tye vir koek is 35 – 45 minute en vir kolwyntjies 20 – 25 minute en alles word by 180 ℃ gebak.
Laat die koeke eers in die panne afkoel deur dit onderste bo te laat afkoel op voetjies gemaak van glase ens. voordat dit ontvorm word. Gaan loer asb op die blog na die les oor Chiffon koek.
Sny die koek in lae met ‘n gare draadjie.
Pak die lae uit. Spuit dan die verkoelde mousse op die sirkels en plaas in die vrieskas vir ‘n uur. Stapel dan die koek lae op mekaar. Versier met enige vars vrugte van jou keuse. Hou in yskas tot bediening.
Mousse
Maak die mousse twee keer aan: een met donker sjokolade en die ander een met karamel sjokolade te vinde by jou naaste bakkers winkel.
Veerlig en dekadent. Die geure wat jy kan in bou in hierdie nagereg is oneindig. Jy kan alkohol basisse soos Amarula, Gemmer brandewyn, Contreax en vele meer inbring. Koffie is ook ‘n heerlike opsie, asook fyn gekapte sout neute….Indien jy die mousse in verskillende kleure wil maak en as ‘n lagies koek wil aanbied, verhoog die gelatien na ongeveer 5 ml meer as in die resep gevra. Doen elke laag ‘n uur uit mekaar sodat die lagies ferm is voordat die volgende opgesit word.
Nota oor smelt van sjokolade: Kap die sjokolade stukkie baie klein op en plaas in dubbelkoker en laat die water saggies kook, nie borrellend nie. As daar ‘n water druppel in die mengsel kom, gaan dit sulke stukke maak en lyk of dit skif. Hou by ongeveer 55℃.
2 groot eiers, geskei
50 g strooisuiker
100 g sjokolade van keuse: wit, karamel of donker, gesmelt
10 ml gelatien poeier of 2 velletjies wat vooraf in koue water geweek is vir 20 minute
60 ml kookwater
125 ml room, sagte punt stadium geklits
40g pekanneute, gekap opsioneel
2 e geursel soos in bg teks beskryf as dit alkoholies is anders net 5 ml essence van keuse
Voeg gelatien by kokende water en roer tot opgelos. Indien nie opgelos, plaas houertjie weer terug in kokende water en hou aan roer tot gesmelt. Laat eenkant om af te koel tot so dik soos eierwitte.
Klits eiergele met stooisuiker tot lig en donsig in ‘n dubbel koker. Dit neem ongeveer 5 minute. Verwyder van hitte.
Voeg die gesmelte sjokolade by die eiermengsel en klits deeglik.
Klits die gelatien by.
Vou styf geklitste room by die mengsel in.
Klop die eierwitte styf en vou met nuete by die mengsel in.
Plaas mengsel in die yskas om effens te set maar nie volkome vir 10 minute…klits met draadklitser sodat die mengsel egalig word. Onthou asb dat hierdie mengsel moet spuitbaar wees en sy vorm behou. Dus, moet jy asb hier self oordeel of dit styf genoeg is. Elke yskas se temperatuur verskil en dan nog Filistyne wat die heeltyd verby kom en die deur oop en toe maak, dus stabiliseer die yskas temperatuur nie. Hou hierdie punte asb ingedagte.
Skep die mengsel in ‘n versiersak sonder ‘n punt…spuit dan van buite na binne ‘n spiraal om die mooi ronde effek te verkry.
Bron: Annelien Pienaar, April 2018, uittreksel uit gelatien klas.
Hoveelheid: 12 sye
Is dit dalk raadsaam om swanger en borsvoedende vrouens te laat weet die mousse bevat rou eiergeel? Ek is versigtig hiervoor.
Santie, ek sal ‘n nota aanheg vir diegene wat nie bewus is van Salmonella infeksies. Dankie en Groete Annelien