Brood en Botter poeding was in die Bezuidenhout-huishouding altyd met ‘n kinkel aangebied deur ‘n baie kreatiewe moeder. Ek dink dat hierdie poeding seker die Arm-man-se-poeding gedoop moet word. Dit kry 4 basiese bestanddele en die opbrengs is baie en vele monde kan daarmee gevoed word.

Nota 1: Met my navorsing het ek gevind dat daar verskeie maniere vir gaarmaak asook die bewerking van die brood self is. Ek gaan vir julle al die variasies op die metodes verduidelik. Die bestanddele lys verander nie en kan dus deurgans toegepas word. Nog ‘n verdere kinkel wat ek ingebring het is die gebruik van gaar rys om ‘n ryspoeding te maak. Jy kan ook gaar pasta noedels of selfs rysnoedels vir Glutenvry gebruik. Dus as jy die variasie op die stysel wil doen gaan jy gaar rys, pasta, ryspasta gebruik in die verhouding 2 k op die basis resep en die brood dan net uit laat. Glo vir my hierdie is ‘n ongelooflike veelsydige resep.

Nota 2: Die brood kan geweek word in die melk en eier totdat dit sag is, dan word die brood fyn gemaak en as ‘n beslag gebruik. Giet hierdie beslag dan in die pan en skep dan stuk konfyt per teelepel in en bak dan met kaneelsuiker oor. So kan jy ook sag gekookte appels en pere stukkies in hierdie beslag in bring….Verstaan jy nou hoekom ek dit die “Arm-man-se-poeding” wil doop…of is dit nou die “Nimmer eindigende poeding?” Appels en pere kan jy ongeveer 1 k stukke by die beslag voeg.

6 snye ouerige wit of bruin brood, korsies afgesny, gebotter aan beide kante (moenie suinig wees nie, smeer lekker dik), sny elke skyf in kwarte
¾ k rosyne
3 jumbo eiers, geklits
1 liter melk
100 g witsuiker of sagte bruinsuiker vir ‘n meer karamelagtige smaak en kleur (heerlik veral met pere en appels.
1 t fyn kaneel
1 t vanielje geursel

1. Voorverhit oond na 170 ℃ en smeer ‘n oondvaste bak van ongeveer 19 cm x 28 cm afmetings het.

2. Voeg die eiers, suiker, melk, vanielje geursel en kaneel saam en klits deeglik. Plaas eenkant.

3. Pak die broodjies in ‘n laag en sprinkel al die rosyne oor. Giet die melk oor en laat vir 2 ure staan.

4. Bak by 170 ℃ vir 40 minute.

5. Bedien met Vinnige Vla

Gaarmaak metode variasies
Slowcooker
Pak al die bestanddele in die slowcooker en laat 30 minute staan en skakel op hoog vir 4 ure.

Bak op stoofplaat
Berei ‘n dubbel koker met twee kastrolle voor. Volg dan vanaf punt 3 en maak gaar vir 40 minute op medium hoog.

Mikrogolf
Mikro veilige glasbak en bedek met kleefplastiek. Volg dan vanaf punt 3. Mikro vir 8 min op hoog. Hou plastiek oor en laat so afkoel.

Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 4-6 porsies