Asynpoeding is nie asynpoeding as dit nie rysmier gaatjie tekstuur het nie. Moeder het dit met speserye gemaak en jy het dadelik in die winter na kerk, geweet wat jou neus kielie as jy by die deur instap. Later jare het ek die waarde van hierdie resep ontdek deur uit nood op ‘n dag toe my oond die gees gee. Ek het ook nie ’n mikrogolf besit op daardie stadium maar wel ‘n “Slow cooker”. Met gekruisde vingers met die verstelling op hoog, het ek na 4 ure die perfekte asyn poeding gekry. Hierdie resep is regtig ‘n rand rekker en vele monde kan uit dit gevoer word. Maak seker vir hierdie resep dat jy al die bestanddele uitgemeet het en nie rond hardloop om die stroop se bestanddele te soek nie. Geniet.

Beslag
115 g (½ k) botter of bakkers margarien, kamertemperatuur
200 g (1 k) witsuiker
2 eiers, medium grootte of 1 jumbo
45 ml (3 e) appelkooskonfyt
15 ml (1 e) wit asyn
250 ml (1 k) melk
10 ml (2 t) koeksoda
280 g (2 k) koekmeel
2.5 ml (½ t) fyn neutmuskaat
5 ml (1 t) fyn kaneel
2.5 ml (½ t) fyn gemmer
2.5 ml (½ t) sout

Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ‘n bak met afmetings van 18 x 25 cm in deursnit. Hou eenkant.

Klits botter en witsuiker saam vir 5 minute tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits deeglik vir 3 minute. Voeg die appelkooskonfyt en asyn by en klits weer 2 minute deur.

Meng melk en koeksoda goed. Sif die res van die bestanddele saam. Voeg melk en meel mengsel om die beur by die eiermengsel. Hou eenkant en berei die stroop.

Stroop
125 ml (½ k) wit asyn
200 g (1 k) wit suiker
375 ml (1 ½ k) water
1 t sitrus skil (opsioneel)
1 kaneel stokkie

Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en verhit tot kookpunt. Kook vir 5 minute saam en giet warm stroop in voorbereide bak. Skep die beslag oor die stroop en bak dan vir 45 minute.

Vinnige vla
Hierdie vla is dik en nie loperig nie, as jy van dunner vla hou, halveer die vlapoeier se mate.
500 ml (2 k) melk (louwarm)
45 ml (3 e) vlapoeier
100 ml kondensmelk
5 ml (1 t) karamelgeursel

Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en roer goed deur. Plaas in mikrogolf en draai vir 1 minuut en haal uit en roer met draadklitser. Herhaal vir nog 5 keer totdat die mengsel sigbaar verdik. Kook dan vir 2 minute totdat die mengsel wil oorkook.

Smeer bietjie botter op die vla se oppervlakte en plaas stukkie kleef plastiek bo-op en druk effens vas. Dit sal ‘n velletjie voorkom.

Bron: Annelien Pienaar, 2017, boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 6-8 porsies