Die titel sê dit alles. Die koek is ekstra klam en sag agv die kombinasie van bestanddele. Wanneer ek my mense wil trakteer dan word hierdie resep nader gesleep. Soms maak ek ekstra groot kolwyntjies, soms ‘n broodjie, soms ‘n koek van hierdie resep. Punt is die beslag is veeldoelig en kan met gemak aangepas word by porsie groottes wat jou huismense se smaak sal pas.

6 ryp piesangs (1 1/2 k of 300 g)
4 ekstra groot eiers
1 k Griekse gewone yoghurt of karringmelk
¾ k heuning
1 e vanielje geursel
1 e bakpoeier
¼ t koeksoda
280 g koekmeel
1 k kakao
1 k donker sjokolade splinters (nie eet sjokolade nie, bakkers of couverture sjokolade)
knippie sout

Voor verhit oond na 180 ℃ en berei panne voor met Pansmeer.

Meng die fyn piesang met eiers, yoghurt, heuning, vanielje geursel en koeksoda.

Sif die koekmeel, bakpoeier kakao en sout saam. Vou dit in by die piesang mengsel.

Vou die sjokolade splinters liggies in die beslag in. Giet die mengsel in bakvorms. Bak soos aangedui op Bak tye diagram.

Haal uit oond en laat in panne afkoel. Plaas dan gebak in yskas vir ‘n uur en versier dan met Ganache Versiersel

Bak tye
Ekstra groot kolwyntjies met 6 gat pan: 25-30 minute
Gewone kolwyntjie met 12 gat pan: 20-25 min
Ringkoekpan: 35-40 min
Soliede panne van 25 cm deursnitte: 35-45 min
Broodpannetjies van 20 cm by 7-10 cm: 30-35 minute

Temperatuur bly vir alle vorme van bak dieselfde!

Ganache Versiersel

Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 6 ekstra groot muffins, 12 muffins, dubbel laag koek of 1 groot ringkoek