Hierdie is ‘n wonderlike gebak wat jou telkens as jy dit sny, verras met sy keurspel van kleure. Ek bedien die koek met ‘n maaskaas drup sousie op die kant.

Hier stel ek voor om jou panne met die Koekepanne smeer resep van my uit te verf want met al die skerp kante van hierdie koek, kan mens nie bekostig dat ‘n deel vassit en afbreek nie.

Hierdie resep is geskik om as ‘n Rooi Fluweel koek ook gebruik te word. Vervang dan net die kleure.

Beet puree
Rasper rou beet genoeg om 2 koppies af te meet. Voeg 1 k water by die beet en kook totdat die beet sag is vir ongeveer 20 minute. Maak dan ‘n puree van die mengsel en kook dan verder oor matige hitte totdat die helfte van die mengsel weg gekook het. Gebruik hierdie mengsel as kleursel vir die koek.

Resep
400 g Koekmeel
40 g Mielieblom, Maizena
½ t Sout
15 ml Bakpoeier
½ t Koeksoda
200 g Botter, kamertemperatuur
500 g Wit suiker
125 ml Griekse yoghurt of Karringmelk
15 ml Vanielje geursel
5 Eiers, groot
100 ml Melk

Redvelvet kleursel
20 g Kakao
100 ml Melk
45 ml Beet puree of Moir’s Krimson Red voedsel kleursel of Beet puree

Voorverhit oond na 180 ℃ en berei pan voor deur dit goed uit te voer met ‘n goeie kleefwerende middel soos die Koekpan smeer. Tuitpan grootte moet 1.6l tot 2 liter groot wees.

Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam.

Verroom die suiker en botter totdat die mengsel lig en romerig is. Dit neem gewoonlik so 5 minute om die perfekte dikte te kry. Klop nou die geursel, karringmelk of yoghurt by. Klop tot die mengsel weer mooi egalig is.

Voeg nou die eiers een vir een by en klop goed sodat die mengsel weer eenvormig word.

Vou nou die meel mengsel met ‘n draadklitser by die eiermengsel in. Voeg ook die melk by met die derde roer. Draai die bak in die rondte as jy meng en volg ‘n figuur 8 vanuit die middel van die bak.

Neem ‘n aparte bak en skep 2 k van die koekbeslag uit, hierdie gaan die wit marmer deel vorm indien verkies. As jy besluit om net ‘n rooi koek te bak…slaan hierdie stappie oor. Meng nou die Red Velvet bestanddele alles eers met mekaar en voeg dan by die oorblywende beslag. Roer die mengsel met draai klitser goed deur.

Skep ‘n eerste lagie rooibeslag in die pan. Skep dan eetlepels vol wit beslag in hopies rondom die punt van die tuitpan. Skep nou weer ‘n redelike dik laag rooi beslag oor en volg weer op met wit hopies en eindig dan met ‘n rooi laag. Neem ‘n sosatiestokkie en trek spiraal strepe. Vul ongeveer 3 vinger spasies van rand.

Bak die beslag vir 60 minute. Bak die koek vir die eerste 20 minute by 180 ℃ en verlaag dan die temperatuur na 160 ℃ vir die res van die baktyd. Laat die koek in die pan afkoel voordat dit op ‘n draadrak uit gekeer word.

Bedien koek met ‘n bakkie roomkaas versiersel eenkant.
250 ml gewone yoghurt – ek verkies die dikker Greekstyle
200 g Maaskaas, nie roomkaas
½ k versiersuiker of
½ blikkie kondensmelk
5 ml vanielje of karamel geursel

Metode

1. Meng al die bestanddele saam en plaas in melkbekertjies.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, BKT Kook klasse: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 1 groot koek.