Wat is Pindasous? Dit is ‘n grondbone botter basis sous en vir my seker een van die wonderlikste souse met geure wat eenvoudig net ongelooflik goed saam werk. Hierdie sous is uiters veelsydig en kan vir ‘n verskeidenheid geregte gebruik word. Vir my is die eerste en lekkerste gebruik seker die tradisionele Nasigoreng bedien met ‘n vark of hoender satay. My Filisityne is lief daarvoor oor Franse roosterbrood, wafels, plaatkoekies en ook doopsous vir groente bord happies. Ek pak gereeld vir jongste Filistyn ‘n houertjie sousie en groente stokkies in vir skool.
½ k ui, fyn gekap
3 e olyf olie
1 t fyn knoffel, op gehoop
1 t komyn saad (cumin)
½ t matige kerrie poeier
¼ – ½ t chillie vlokkies
¼ t gerookte paprika
2 e tamtiesous
2 e soya sous (woestersous is ook geskik)
1 e bruinsuiker
5 e grondbone botter opgehoop
¼ k – ½ k klappermelk of klapperroom (Verdun sous)
Sout en peper na smaak
Braai die ui tot sag in olyfolie in diep kastrol. Voeg die suiker, knoffel, komynsaadm kerrie en paprika by en braai vir nog 1 minuut. Voeg die tamatiesous en soyasous by en braai vir nog 1 minuut. Haal die kastrol van die hitte af en roer die grondbone botter by.
Nou kom die hele geheim van Pindasous…MOENIE die grondbone botter te kook nie. Dit moet net smelt anders is dit ‘n olierige spulletjie omdat die grondbone se proteindeel en olie skei.
Roer tot glad en verwerk tot fyn met blender stick of voedeselverwerker. Voeg dan so ‘n kwart koppie klappermelk by en meng tot glad. Besluit of jy ‘n dik of dun sous verkies en pas dan die konsistensie aan.
Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 300ml ongeveer