Hierdie is so ‘n alles in een tert/koek en neem net 10 minute om te maak. Die koek- en vlalaag vorm sommer so vanself tydens die bakproses. As die koek uit gekeer word, dan is die koekbasis reeds onder en jy kan laat waai met die versiersel. Ek het eers baie skepties na die resep gekyk, die grootte van die pan het absoluut net te klein gevoel en besluit, suster, kom ons neem die sprong en probeer met die tweede rondte. Dit was voorwaar ‘n aangename verrassing gewees.

Wenk: Hierdie koek kan in ‘n Vla of Vanilla weergawe gedoen word. Vervang kakao met vla of met mielieblom vir vanilla geur. 

Tert
4 groot eiers, geskei
200 g wit suiker
1 e kraan water
125 g botter (moet botter wees, gesout is reg)
70 g koekmeel, gesif
40 g kakao, gesif
knippie sout
400 ml volroom melk
100 ml room
¼ t kremetart vir styf klits van eierwitte

Voorverhit oond na 150 ℃. Smeer ‘n ronde koekpan met koekpansmeer uit en plaas eenkant. Kry ‘n oondpan waarin die koekpan gemaklik sal pas. Pan afmetings is 22 cm. 25 cm pan sal ook reg wees.

Smelt botter en laat afkoel. Verhit melk en room net tot liggaams temperatuur en laat afkoel.

Klits eiergele, wit suiker en water saam vir 3 minute en klits in ‘n dunstraaltjie die botter by.

Sif die koekmeel, kakao en sout saam en meng goed met die eiermengsel en voeg die melk by en vou in.

Klits die eierwit met kremetart tot stywe punt stadium, vou in beslag. Jy sal sien die beslag is nou baie loperig en die eierwitte is half skuimend bo-op en wil nie mooi inmeng nie, asof dit weer opstyg na bo. Dit is juis hier wat jy nie moet kommer en te veel moet meng nie. As die streperigheid verdwyn, giet dan in gesmeerde pan.

Nou kom die volgende ding wat jou gaan laat kommer…ek het die pan tot 5mm van bo vol gemaak. Ja, jy lees reg! Die pan het nie oorgekook nie…die eierwitte het soos ‘n soufflé na bo gerys en toe weer afgesak toe dit afgekoel het.

Giet beslag in 22 cm ronde koepan. Kook ‘n ketel met water en giet die kokende water in die oondpan. Plaas die koekpan met beslag in die oondpan en bak dan vir 1h – 1 1/2h minute by 150 ℃.

Sodra die koek gaar is, verwyder uit die waterbad en laat goed afkoel by kamertemperatuur. Plaas dan in koekpan in yskas oornag om ferm te word en te set. Volgende oggend keer uit en giet dan die sjokolade ganache oor die koue koek. Dit sal dadelik set. Plaas weer in yskas en bedien koud.

Ganache
½ k wit suiker
½ k kakao, gesif
1/4 k water
½ k botter, gesout
½ k goue stroop
1 k sjokolade splinters (goeie kwaliteit sjokolade)
½ k room

Plaas die suiker, kakao, water, botter en gouestroop in ‘n kastrol en verhit sodat die suiker smelt. Sodra die suiker gesmelt het, kook vir 2 minute en verwyder van hitte.

Voeg die sjokolade splinters en room by die warm mengesel en moenie roer nie, draai die kastrol in die rondte. Die sjokolade sal baie vinnig smelt as dit ‘n goeie gehalte sjokolade soos bv. Lindt 70-90% is.

Klits dan met ballon klitser deeglik deur. Laat die mengsel goed afkoel en plaas dan verder in yskas vir 30 minute voordat dit op die koek gesmeer word.

Plaas verkoelde koek op ‘n mooi koekbord. Smeer die ganache met ‘n slap lem mes oor die koek.

Plaas in koelkas tot bediening. Versier met vars bessies soos framboos (raspberries) of kersies!

Die oorblywende sous kan gestoor word vir iets soos plaatkoekies of wafels, malvalekker braai ens. Rak lewe 8 weke in die yskas.

Bron: Annelien Pienaar, Desember 2017.
Hoeveelheid: 8 porsies