Ingelegde Sagte vrugte

Ingelegde Sagte vrugte

Wanneer mens met sagte vrugte werk soos bessies, moet mens seker maak dat dit nie te warm gemaak word tydens die preserveringstyd. As die temperatuur bo 90 ℃ styg sal die vrugte uitermate krimp in die bottel en die vrugte begin dryf. Ek stel voor jy kry ’n termometer om jou perfekte resultate keer op keer te gee.

1. Preserverings kastrol met digpassende deksel
Gebruik ’n kastrol wat diep genoeg is om die botteltjies met deksels te pas en maak seker die water gaan oor die proppe van die bottels. Plaas ook ‘n draad afkoelrakkie onder in die kastrol. Die glas houertjies mag nie direk op die bodem van die kastrol raak nie, want dit kan maklik bars.

Verhit die kastrol se water (sonder die bottels) tot 85 ℃ en hou die temperatuur konstant. As te warm, gooi ys by. Maar hierdie is die kritiese deel en as jy nie hier by die reëls hou nie, is jy gewaarborg om drywende vrugte te kry.

Was en spoel botteltjies uit en hou by 100 ℃ in die oond totdat dit tyd is om te vul.

2. Suiker stroop
Berei ’n stroop van 1k suiker en 1 k water afgemeet en dan omgeskakel na gramme vir akkuraatheid:

VB.: 1 k witsuiker tot 1 k water = 200 g witsuiker + 250 g water op 500 g aarbeie. Ja, jy lees reg, water is in gram en mℓ presies dieselfde.

Bogenoemde stroop is ‘n dik stroop en is nodig vir suur vrugte soos aarbeie. Ek het ook ondervind dat kleiner aarbeie beter in stroop preserveer en minder krimp as heel groot aarbeie.

Berei die stroop deur eers die water en suiker oor lae hitte te smelt sonder dat die mengsel mag kook en sodra die suiker gesmelt het, kook vir 5 minute. Terwyl die stroop kook berei die aarbeie voor. Die stroop MOET warm oor die aarbeie gaan.

Nota: Ek sit soms kaneelstokkies of vanielje stokkies by die aarbeie in elke botteltjie…verder kan jy ook nadat die stroop gekook het vir elke koppie water 1 -2 e Jenver (gin), brandewyn ens. byvoeg vir ‘n heerlike geur.

3. Blansjeer aarbeie
Kook ’n kastrol met water en eenkant ‘n bak met ys en water vir later. Sny die stingels van aarbeie af. Gebruik net vruggies wat geen slegte plekkies het. Die slegte plekkies sal wys as dit in die bottel is deur wit merkies te maak. Spoel die gesnyde aarbeie onder lopende water. Dompel die vruggies vir presies 1 minuut in die kokende water, skep uit en dompel in water met ys gevul om die kookproses dadelik te stop. Skep dadelik uit die koue water en dreineer terwyl jy die warm bottels uit die oond haal.

4. Pak van fles
Pak die vruggies, styf maar nie ingedruk, in ‘n warm bottel en vul die fles met stroop op soos jy pak. Vee die bekke van die bottels af en kyk of daar nog vrugte nodig is om by te voeg. Die rand van die bottel moet ongeveer 1 cm oop wees sodat die vrugte tydens die gaarmaakproses kan uitsit. Skroef die bottels styf toe en draai dan met ‘n halwe draai effens oop.

5. Kook van aarbeie
Plaas die flesse in die kokende kastrol met water wat heeltyd tussen 80 ℃ en 90 ℃ gehou word. Hierdie is die perfekte temperatuur vir die metode wat ons nou doen. Die slim mense noem dit Warm waterbad metode. Ek werk gewoonlik op 85℃ vir die wis en die onwis. Maak seker die deksels van die bottels is bedek met water, maak die kastrol met dig passende deksel toe en kook by 80℃ – 90℃ vir 15 minute. Na 15 minute haal die bottels uit die kastrol met voedsel tang en draai die proppe baie styf toe. Draai die bottels op hul koppe, sodoende kan jy ook sien of die bottel lek. Laat self afkoel.

Ek gebruik Consol se skroefring en plaatjie bottels. Rede ek kan sien deur die skroef ring af te haal of die plaatjie ‘n vakuum gesuig het. Hierdie vakuum vertel vir my ek het my werk perfek gedoen. Indien jy net met gewone bottels werk maak seker dat jy kan sien dat die dekseltjie induik.

Mag julle sommer baie bessies so verwerk.

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Preservering 101
Hoeveelheid: Soveel as wat jy wil bewerk.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-09-06T17:34:48+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Santie. September 6, 2017 at 7:30 pm - Reply

    Fantastiese les, Annelien! Baie dankie.

    • Annelien September 7, 2017 at 6:38 pm - Reply

      Groot plesier…geniet. xxAnnelien

Leave A Comment