
Daar is altyd ‘n gespot as ek hierdie sous met hoenderlewertjies tydens ontbyt bedien…dan roep ons dit Skoonma se tong of Bedaar vrou bedaar! Hierdie sous is warm en geurig met die pikante smaak van rissie wat deur kom. Jy kan verder besluit of die sous rooi of groen moet wees. Pluk die rissies vroeg in die seisone en jy het groen sous, pluk later in die seisoen, en die sous is rooi. Ek het soetrissies ook by die resep ingebring om die smaak van die rissies verder uit te bring en om substans by te voeg. Geniet want dit is my treffer by my gastehuis se ontbyt. Onthou egter jy kan die sous baie warmer maak deur meer rissies by te voeg.
400 g wit suiker
260 g / ml wit druiwe asyn
45 ml (3 e) mielieblom
300 g / ml water
1 groot rooi soet rissie, ontpit en fyngekap
1 groot ui, fyngekap
6 rissies met pit fyn gekap
6 rissies ontpit en fyn gekap
45 ml (3 e) vars knoffel, fyn gedruk
1 t sout
Meng suiker, asyn, mielieblom, water saam in kastrol en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos het.
Voeg die roetrissie, ui en rissies by en kook vir ongeveer 25 minute totdat die mengsel mooi glansend en effens verdik. Voeg dan die sout en knoffel by en kook weer 5 minute.
Bottel dadelik in warm gesteriliseerde flesse.
Raklewe: 6 maande
Hoeveelheid: 600 g of 4 x 375ml bottels
Bron: Annelien Pienaar, Preserveringsklas 101, 2017
ANNELIEN KAN EK HIERDIE RESEP GEBRUIK VIR PEPPEDEW OF PIKANTE PEPERS.
Paula dit sal perfek werk sonder enige aanpassings. Groete Annelien Pienaar