My Ma en haar sussie was in Skeerpoort as die “Sonskyn Susters” bekend omdat hulle altyd aan die lag en kook was. As ek een woord vir die 2 dames moes gee, hulle was BORRELLEND!
As ek aan hierdie fudge dink dan, dink ek aan daardie soet herinneringe van klein tyd met hulle twee. Hulle was onafskeidbaar tot die dood.

Wenke voor jy begin: Tydens die kook van fudge word vog basies verminder deur dit met die kookproses te laat verdamp. Suiker karameliseer en suiker kristalle word meer gekonsentreer. Om haastig te wees en vinnig te kook gaan jou fudge laat brand en raai wat, moenie dink dat as jy vinniger kook die vog vinniger gaan verdamp nie. Dus kook stadig en neem ‘n suiker of olie termometer en meet die mensel se temperatuur 115C bereik. Kook stadig sodat die karamelisasie kan plaasvind sonder om te skroei. Punt is: GEDULD!

1 blik kondensmelk
3 kop suiker
1 kop melk
250 g botter of Rama / Stork bake
knippie sout

Smeer die kastrol waarin jy die fudge gaan kook, se bodem en kante eers met olie uit. Dit sal voorkom dat dit aanbrand. My ou stoompot werk wonderlik vir hierdie resep, dit het nog nooit aangebrand nie.

Voeg al die bestanddele in die kastrol en roer oor lae hitte totdat al die suiker opgelos het. Was die kante van die kastrol af as daar suiker kristalle tydens hierdie proses vasklou. Vat ‘n kwassie en maak dit klam met water en vee die kristalle af. Die olie teen die kante help ook dat die suiker nie vas sit en die was proses maklik maak.

Sodra die suiker mooi opgelos het laat die mengsel by medium hitte kook totdat dit karamel bruin word en dik is. Roer af en toe, stadig met jou houtlepel. Na die einde se kant toe, geen roer! Dit kan enige iets van 40 – 60 minute neem (dalk langer a.g.v. hoogte bo seespieël). Onthou dit moet ‘n dik massa word. Sodra die kante van die kastrol af geskraap word soos jy roer en sien dit maak sand suiker is die mengsel amper gereed. Skep bietjie op koue piering uit en toets na ‘n minuut of dit sandsuiker word. Indien jy ‘n suiker termometer besit moet die temperatuur ongeveer 115C bereik om perfekte sagtebal stadium te bereik…118C is amper te ver.

Voeg geursel van jou keuse by. Klop die mengsel goed met ‘n houtlepel. Ek speel baie met die geure, Amarula, karamel essence, koffie ekstrak, vanielje geursel en vele meer. Jy kan ook hier neute wat vooraf warm gemaak is by die laaste stap invou, Milo, sjokolade splinters.

Skep dadelik uit in vooraf gesmeerde oondpan. Laat effens set, sny in blokkies en laat verder afkoel.

LEWER: Halwe oondpan of 2 pannetjies 20 cm x 20 cm

BRON: Die Sonskyn Bezuidenhout susters! Hantie en Ina. Annelien Pienaar