Photographer Hanneri de Wet

Hallo Twister.

Aai hierdie week het gevlieg en dan is dit nog ‘n “kortwiek” daarby! So bietjie speke in die wiele gehad op die plaas met brandstigters en wel, mens raak uiters kwaad dat mense lewens ook niks meer werd is. Om nie eens te praat van die skade aan bome en natuurlewe. Het jy geweet ‘n boom wat brandskade kry, neem tot 10 jaar om van die skade te herstel?

Oor na meer opbouende dinge. Die sekuriteit rakende my BKT resepte en inligting. Hier is hoe ek dinge beplan en tans word dit opgestel en tree van 1 Julie inwerking.

Die Nuusbriewe sal soos normaal uitgaan en geen kostes verbonde daaraan nie, dus gratis. Dit sal egter vir die leser wys watter nuwe resepte vir die week gelaai is, maar hul sal nie die resepte kan oopmaak indien hul nie ingeteken is vir die diens. Die diens word opgestel vir 6-12 maande opsies. Om deur die admin. te gaan vir R25 per maand en die bankfooie is nie ’n opsie nie. Koste 6 maande R150 of 12 maande R250 (waarvan 2 maande gratis is). Die oorsese mense kan via Paypal en Payfast betaal.

Dus sal die webtuiste nog besoek kan word maar die Resepte gedeelte is ongelukkig geslote. Daar sal wel in die nuusbrief (wat elke week uitgaan) een resep per maand ingesit word. Hierdie resep word dan op ’n ander deel van die webtuiste onder Gratis resepte gelaai.

Vir die doel van FB toegang gaan ons die intekenare oorsit na ’n geslote BKT groep om al die navrae te hanteer. Die ou groep gaan dus doodloop en verwyder word van FB sodat mense nie kan krap waar dit nie jeuk.

Watter diens kan die intekenare verwag. Die resepte word so opgestel dat julle ook vrae kan vra op die site wat ek hanteer. Verder gaan ek julle ook help met meer tegniese kos maak prosesse en aandag gee aan ons toekomstige kokke, die kinders. Ja, ons gaan die resepte kindervriendelik maak sodat hul betrokke kan raak in die kombuis. Verder gaan ek vir ons spesiale diëte ook meer moeite doen en ek het ’n RDA (geregistreerde dieetkundige) wat saam met my daarna sal kyk. Met my Voedsel wetenskappe agtergrond kan ons ’n wonderlike inligtingsblad vir julle saamstel. Julle sal ook van tyd tot tyd insae kry t.o.v. klasse en prosesse. Die persone wat my klasse al bygewoon het, sal ook geholpe kan raak met hierdie diens.

So, baie dinge en min tyd. Ek glo diegene wat die reis 2 jaar gelede saam met my aangepak het, sal saamstem…BKT het deel geword van ‘n konstante ewolusie…nes jy dink jy het dinge onder die knie, dan groei sy weer na haar eie wil.

Maak seker julle kyk gereeld na die Events kalender, om te sien waar en wanneer ek kom kuier met my BKT kookboek. My idee is om met die boek kuiertjies vir julle die BKT konsep te verduidelik. Een woord wat ek wel kan noem soos ’n omroeper onlangs vir my genoem het: BKT is ‘n ensiklopedie! Julle kan al die vrae met antwoorde vir alle kos areas in die boek vind…. Ek vertel te veel…maar ja, ek kan nie wag om julle te ontmoet.

BKT groete,

Annelien

M6/W3/B2
Maand (M)
Week (W)
Brief no (B2)