Hierdie koek neem 25 min om te maak en te bak, nog 20 min vir afkoel en daarna kan jy versier na hartelus. Onthou met silikoon panne kan jy die koek in die pan vrieskas toe neem as dit afgekoel het…rus vir ’n uur voordat jy dit ontvorm. Silikoon panne bak langer as metaal panne wat goeie geleiding het. Dus moet die baktyd vir Silikoon panne in die oond met 15 minute verleng word en die bak temperatuur met 5 ℃. Lees asb ook die artikel wat ek hier aanheg sodat jy jouself vergewis van verskillende mikrogolf sterktes vir die bak van die koek. Maak dus seker wat jou oond se sterkte is. Mikrogolf oond omskakelings tabel

Hier is ‘n skakel na die video soos gedoen vir Kyknet en Die Groot Ontbyt: Chocolate brownie stroop koek

Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ’n 23-25 cm ringkoekpan.

300 g (1 ½ k) witsuiker
6 jumbo eiers
190 ml (¾ k) sonneblom olie
190 ml (¾ k) kraanwater
15 ml (1 e) vanieljegeursel

Klits die suiker en eiers saam tot lig en donsig. Klits die sonneblom olie goed deur en voeg dan die water en vanielje geursel by.

210 g (1 ½ k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
Knippie sout
45 ml (3 e) kakao

Dit is belangrik om die bestanddele saam te sif voordat dit by die eier beslag in gevou word. Sif twee keer goed en vou dan die droog by die nat. Giet in voorbereide vorm.

Ek het vir diegene wat nie silikoon vorms het alternatiewe gaarmaak metodes saam gestel asook ‘n kombinasie van panne.

Oond bak met Silikoon vorm: Plaas versigtig op bakplaat en bak vir 70 minute tot gaar by 160 C

Oond bak met metaal pan: Bak 45-60 minute by 180 ℃.

Mikrogolf bak met Silikoon vorm: 16 minute by vol krag vir 650-850 watt oonde.

Los koek om in vorm af te koel…plaas vir ‘n uur in die vrieskas om ferm te word. Berei solank dan die sous soos volg voor:

Stroop
100 ml witsuiker
100 ml kakao
100 ml kraanwater
100 ml botter
100 ml gouestroop of kondensmelk
30 ml mielieblom
100 ml room (voeg eers by as mengsel van die stoof kom)

Plaas witsuiker, kakao, kraanwater, botter, gouestroop in kastrol en verhit. Kook vir 5 minute saam tot verdik, haal van hitte en roer room by. Laat afkoel by kamertemperatuur. Sodra koek gereed is, ontvorm koek en giet die sous oor. Die sous sal dadelik stol op die koue koek. Koek kan natuurlik oornag gelos word voordat die sous oorgaan…jou keuse hoe haastig jy is.

Hoeveelheid: 1 groot koek of 12 kolwyntjies
Bron: Annelien Pienaar Food Consultant vir Kyknet, Die Groot Ontbyt. www.annelienpienaar.co.za