Kind wees in die Skeerpoort vallei was vol tradisionele geregte van die gemeenskap. Ons gemeenskap het sy ontstaan gehad weens ‘n sendingstasie vir die Duitse gemeenskap in ons vallei. Toe kom die Nederlanders, Italianers, Engelse, Skotte, Indiërs en Portugese. Ons was met almal bevriend en so het my nuuskierigheid oor kos die hand gekry.

Portugese vla tertjies is soos die naam aandui, ‘n eiervla wat gebak word. Tradisioneel word vanielje peule en sade in die melk gekook…afgekoel en dan dreineer. Maar vir my doen ek nie die dreinering nie, ek hou van die tekstuur van die sade. Ek het in die resep vir julle die variasie van geursel of Vanielje peule gegee.

Vulsel: Hierdie vla mengsel hou goed vir drie dae in die yskas. So kan jy volhoubaar vir jou besigheid bak! Maak net seker jou tert doppies is voorberei. 
5 ml (1 t) mielieblom
1 ¼ k melk verdeel
265 g (1 1/3) k wit suiker
165 g (2/3 k) water
½ t vanielje geursel
6 large eiergele
opsioneel: 1/4 lemoen se skille in melk
1 t vanielje geursel

Voor verhit jou oond na die WARMSTE wat dit kan gaan. Want hierdie tertjies moet BRAND!

In ‘n mengbak meng die koekmeel met ¼ k van die melk om ‘n pasta van te maak.

Plaas die suiker, kaneel of sitrus skil en water in ‘n kastrol en kook oor matige hitte tot 115C. MOENIE die stroop roer nie.

In ‘n aparte kastrol plaas die res van die melk in ‘n kastrol, bring net tot onder kookpunt en voeg die melk-meel pasta by en roer tot glad met draad klitser. Neem dan die stroop en verwyder skille of kaneel stokkies. Giet die stroop in dun straal by en kook die mengsel tot gaar vir 5 minute.

Klits die eiergele glad en voeg bietjie van die soet melk mengsel by en klits goed deur en hou so aan totdat al die melk by gevoeg is. Klits goed deur. Laaste voeg vanielje by.

Die voorbereide houertjies gaan nou gevul word deur dan eers die mengsel deur ‘n sifte giet om stukkies te verwyder sou daar dalk klontjies wees. Vul die houertjies ¾ vol.

Bak die tertjies vir 15-18 minute totdat jy kan sien dat die tertjies brand kolletjies wys.

Deeg (gekoopte deeg)

6 e sagte botter
200 g tot 300g skilferkors deeg

Rol deeg ongeveer 45 cm by 30 cm uit en smeer met baie sagte botter soos vir ‘n toebroodjie. Rol die deeg van die smalste kant op en verkoel vir 20 minute. Deel rol in 24 ewe groot stukke en sny in die dwarte deur sodat die spirale sigbaar is. Druk die spirale in die holte van die kolwyntjie pan in.  Vul met eier beslag. Bak vir 25 minute.

Ek het bg foto se Pastes gebak in 5 cm deusnit en 2.5 mm hoë egte Pastel de Nata pannetjies. Mini klein bakkies. Dit vergemaklik die indruk van die deeg want jy hou elke houertjie tussen die vingers vas en roteer met gemak. Dit is hoe dit gedoen moet word, maar mens sukkel om die houertjies in die hande te kry. Dus, kolwyntjie panne werk ook goed.

Haal uit kolwyntjie panne en laat op draadrakkie afkoel sodat die kors heerlik bros bly.

Wenk: Indien jy ‘n pizza steen besit, plaas dit vooraf in die oond om warm te word. So help dit die basis van die tertjies bros bak en deur gaar.

Tuisgemaakte deeg

Hierdie deeg is super maklik en ongekompliseerd sou jy besluit om self jou degie te maak. Hierdie deeg is heerlik bros. Die geheim egter is die smeer wat jy gebruik. Maak seker dit is so sag dat dit smeerbaar is. Anders gaan die lagies nie reg vorm van die deeg.

280 g (2 k) koekmeel
190 g (3/4 k) water
240 g botter of 80% bakkers margarien
Knippie sout

Plaas water onder in staanmenger se mengbak en dan die meel. So meng die twee bestanddele baie makliker sonder ekstra meel wat nie wil optel as die menger meng. Lees wel my artikel oor Kenwood en ander mengers om hoogte van lemme te verstel vir optimal meng. Meng die deeg totdat dit los kom van die kante van die bak, ongeveer 5 minute.

Hierdie is ‘n slap deeg. Moenie kommer. Bedek die deeg direk in die mengbak en laat vir 20 minute rus. Maak seker die botter/margarien is sag.

Sprinkel BAIE meel op die oppervlakte en ook op die deeg, rol die deeg dan 45 cm x 45 cm uit. Vee dan met ‘n pastry kwassie die ekstra meel van die oppervlakte. So smeer die botter gemaklik op en maak nie ‘n gemors. Deel die botter per oog in drie dele. Want elke deel gaan in verskillende lae op mekaar gesmeer word, rol, vou en smeer weer.

Smeer die eerste derde van die botter op die oppervlak. Maak seker jy smeer NIE tot op die kante. Los so ‘n vinger spasie oop.

Vou die deeg dan in derdes op mekaar. Draai die deeg kloks gewys. Rus die deeg vir 5 minute en rol die deeg weer in ‘n 45 cm x 45 cm vierkant. Smeer weer met die tweede deel van die margarien en vou weer in derdes. Herhaal dan met die laaste deel van die botter met die 5 minute rus periode. Maar omdat dit nou die laaste deel is moet die deeg 45 cm by 55 cm gerol word, botter en dan soos ‘n rolkoek op gerol word vanaf die 53 cm lengte.

Rol die deeg dan oor op kleef plastiek en verkoel vir twee ure tot goed geset of vir 3 dae. Uit hierdie rol word die klein sirkels gesny wat dan met nat vingers in die Portugese tertjie houers in gedruk word. Of alternatiewelik kolwyntjie pannetjies.

Sny dan 2 cm stukkies van die rol af om dan in die gesmeerde pannetjies per hand en nat vingers in gedruk te word. Onthou altyd, as deeg terug trek, los dit vir ‘n paar minute en gaan dan terug en druk weer in.

Hoeveelheid: 24 porsies.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, BKT Portugese gebak klas.