Hierdie koek is ongelooflik klam. Die bestanddele het ek so uitgewerk dat dit ’n ekonomiese koek is om te bak. Jy kan wel luuks gaan met die koek soos om ’n kwart van die koekvrugte met glansvrugte soos makataan stukke of vye te vervang. Verder kan die resep sonder alkohol gemaak word en die alkohol kan met vrugte sappe soos appelsap en lemoensap vervang word. Ek sit bietjie kakao by die mengsel om die smake van die speserye op te tel. Dit is regtig subtiele geure wat so perfek trou met die res van die bestanddele, wat hierdie dus ’n buiten gewone vrugtekoek maak wat smake aan betref. Alles in fyn balans gedoen.
Voorbereiding van vrugte
1 kg gemengde koekvrugte
400 g (2 k) sagte bruinsuiker (Treacle sugar)
300 g (2 k) glanskersies – gesny
200 g (2 k) pekans
150 g (1 k) gekapte dadels
250 g botter – Rama of Stork bake is ook geskik
750 ml (3 k) water
10 ml (2 t) suurlemoensap
125 ml (½ k) sjerrie
10 ml (2 t) koeksoda
Kook gemengde vrugte, bruinsuiker, kersies, dadels, botter, water en suurlemoensap saam. Kook vir 20 minute.
Verwyder van hitte en voeg koeksoda, sjerrie en pekans by warm vrugtemengsel en meng goed. Laat die mengsel tot koud afkoel.
Koekbeslag
560 g (4 k) Eureka mills se koekmeel
45 ml (3 e) kakao
15 ml (1 e ) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) fyn kaneel
4 eiers – goed geklits
½ t sout
125 ml (½ k) Sjerrie of Brandewyn
Berei panne van ongeveer 23 cm deursnit voor deur dit met ‘n dubbel laag waspapier uit te voer. Plaas eenkant. Voorverhit oond na 160 ℃.
Skep in panne. 850 g koekvulsel per 15 cm pan is perfek. Jy kan met die vorms van die panne speel.
Bedek koek met waspapier laag, draai toe in kleefplastiek en laaste met foelie. Stoor by kamertemperatuur en maak ’n merk sodat jy weet wat die bokant en die onderkant van die koek is. Sodra jy die koek wil “dokter” na ’n week moet die onderkant na bo gedraai word, sprinkel met alkohol, onthou dat hierdie nou so na bo moet wys en so gestoor word sodat die alkohol na onder kan sypel. Doen so vir 4 keer. Na 4 – 5 weke is die koek gereed. Nota: ongeveer 100ml brandewyn en sjerrie gemeng vir elke dokter sessie.
Mikrogolf kan ook ingespan word vir die bak van die koek: 18 minute op hoog, bedek bak met kleefplastiek. Onthou om nie meer as 850 g beslag per baksel te bak nie. Laat afkoel soder om oop te maak na lou, sprinkel dan met alkohol of sap.
Glanslaag met koekvrugte
1 1/2 t pektien poeier (bakkerswinkels, Dischem hou dit aan)
½ k witsuiker
½ k appelkooskonfyt
4 e suurlemoensap
½ k water
2 k koek vrugte van keuse
Meng die pektien eers baie goed deur met die suiker. Plaas in kastrol en voeg al die bestanddele by. Roer die mengsel oor matige hitte totdat die suiker kristalle opgelos het. Kook vir 5 minute en skep dadelik op koeke en laat afkoel.
Wenk:
Ek verkies om die koeke eers in die panne te hou sodat die vrugte nie afval nie. Laat so staan totdat geset. Om die koeke maklik uit die panne te kry: plaas lang repe dubbel gevoude foelie, wat langer gesny is as die pan, sodat dit uitsteek soos handvatsels, om die koek uit die panne te lig. So beskadig jy nie die koek nie. Hierdie word gedoen nadat die koekgebak is, een maal uitgekeer is en dan weer met die foelie teruggesit is.
Bron: Annelien Pienaar, 2016, Boerekos Twist kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Baie dankie vir die deel Annelien! Ek gaan dit beslis die naweek probeer XxX
Groot plesier en kom spog asb. Groete Annelien
Hoekom verskil hierdie resep van die een in resepteboek?
Hallo Margaret, want dit is anderste resepte. Groete Annelien
Goeie more, waar kan ek Eureka Mills koekmeel koop. Ek woon in Boksburg Gauteng.
Sien vreeslik uit om jou resep te probeer.
Ek is 60jr oud en het nog nooit ñ vrugtekoek gebak nie.
Hallo Gerda, ek kan nie wag dat jy jou eerste koek bak! Jy moet kom spog hoor. Eureka is by alle supermarkte in Gauteng, Dischem ens beskikbaar. Loer mooi, dit is ‘n bruin outydse verpakking. Anders kan jy met hierdie resep wel gewone koekmeel gebruik. Groete Annelien
Baie Dankie vir jou mededeelsaamheid met die vrugtekoek Annelien. Gaan hom definitief probeer.
Hallo Corrie, geniet en ek wil graag op die Boerekos met ‘n Twist FB blad jou foto sien as dit gebak is. Groete Annelien
Annelien…ek weet die vraag is al gevra…die glanslaag…bêre ek die koek met die glanslaag? Sal dit nie aftrek wanneer dit oopgemaak word? Ek wil as geskenk gee…so hoe dr die ontvanger hom verder?
Hallo Tania, jy dokter die koek klaar en dan daarna eers sit jy die vruggies op en gee vir geskenk. Daarna moet die vries of yskas toe. Die dame moet net versigtig die selofaan aftrek. Groete Annelien
Hallo Annelien, hoe maak ek my eie vrugtemengsel vir die vrugtekoek?
Hallo Lanie, die resep sal in hierdie week beskikbaar gestel word. Groete Annelien