Red Velvet Bundt koek is ‘n wonderlike gebak wat jou telkens as jy dit sny, verras met sy diep kleure. Ek bedien die koek met ‘n maaskaas drup sousie op die kant.
Wenke vir Red Velvet Bundt koek
- Hier stel ek voor om jou panne met die Koekepanne smeer resep van my uit te verf. Die resep se link is onder aan die bron beskikbaar. Hierdie resep van pan voorbereiding voorkom dat die koek gaan vas sit. So, los maar die kleefwerende kos sproei en maak jou eie. Dus is die geheim van hierdie koek, dat dit glad en egalig uit die pan moet kom, die koek word nie versier nie.
- Indien jy nie die koek rooi wil hê nie, wel, dan maak ons dit ‘n rëenboog kleur of net wit en bruin. Wees ook op die uitkyk by die bakkers winkels vir die swart kakao…dit gee die mooiste swart glinsterende krummel!
- Bedien die Red Velvet Bundt koek met ‘n bakkie roomkaas versiersel eenkant.
- Die Red Velvet Bundt koek kan ook in lagies gesny word en met ‘n Roomkaas versiersel aan mekaar gesit word.
Resep vir Red Velvet Bundt koek
- 400 g Koekmeel
- 40 g Mielieblom, Maizena
- ½ t Sout
- 15 ml Bakpoeier
- ½ t Koeksoda
- 200 g Botter, kamertemperatuur
- 500 g Wit suiker
- 125 ml Griekse yoghurt of Karringmelk
- 15 ml Vanielje geursel
- 5 Eiers, groot
- 100 ml Melk
Redvelvet kleursel vir Red Velvet Bundt koek
- 20 g Kakao
- 100 ml Melk
- 45 ml Rooi voedsel kleursel of Rolkem se Red velvet produkte tov kleursels en geursel
- 10 ml Red Velvet geursel Rolkem
Metode vir Red Velvet Bundt koek
- Voorverhit oond na 180 ℃ en berei pan voor deur dit goed uit te voer met ‘n goeie kleefwerende middel soos die Koekpan smeer
- Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam.
- Verroom die suiker en botter totdat die mengsel lig en romerig is. Dit neem gewoonlik so 5 minute om die perfekte dikte te kry. Klop nou die geursel, karringmelk of yoghurt by. Klop tot die mengsel weer mooi egalig is.
- Voeg nou die eiers een vir een by en klop goed sodat die mengsel weer eenvormig word.
- Vou nou die meel mengsel met ‘n draadklitser by die eiermengsel in. Voeg ook die melk by met die derde roer. Draai die bak in die rondte as jy meng en volg ‘n figuur 8 vanuit die middel van die bak.
- Neem ‘n aparte bak en skep 2 k van die koekbeslag uit, hierdie gaan die wit marmer deel vorm indien verkies. As jy besluit om net ‘n rooi koek te bak…slaan hierdie stappie oor. Meng nou die Red Velvet bestanddele alles eers met mekaar en voeg dan by die oorblywende beslag. Roer die mengsel met draai klitser goed deur.
- Skep ‘n eerste lagie rooibeslag in die pan. Skep dan eetlepels vol wit beslag in hopies rondom die punt van die tuitpan. Skep nou weer ‘n redelike dik laag rooi beslag oor en volg weer op met wit hopies en eindig dan met ‘n rooi laag. Neem ‘n sosatiestokkie en trek spiraal strepe.
- Bak die beslag vir 50 – 60 minute. Bak die koek vir die eerste 20 minute by 180 ℃ en verlaag dan die temperatuur na 170 ℃ vir die res van die baktyd. Laat die koek dan vir 15 minute afkoel voordat jy dit op ‘n draadrak om keer om af te koel.
Sousie vir die Red Velvet Bundt koek
- 250 ml gewone yoghurt – ek verkies die dikker Greekstyle
- 200 g Maaskaas, nie roomkaas *nota: indien jy die mengsel dikker wil he moet daar dan van roomkaas gebruik gemaak word.
- ½ k versiersuiker of
- ½ blikkie kondensmelk
- 5 ml vanielje of karamel geursel
Metode vir die sousie van die Red Velvet Bundt koek
- Meng al die bestanddele saam en plaas in melkbekertjies.
Bron: Annelien Pienaar, 2016, BKT Kook klasse: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 1 groot koek.