As daar nou een ding is wat die Bezuidenhout dogters goed kan doen, dan is dit letterlik bolletjies rol en koekies bak! My jonger suster, Maryke Botha is die familie se baas koekie bakster en maak ons almal trots met haar gebak. Sy het my geleer om my vrees vir die koekie drukker van my Ma se tyd, te verloor.
My sus het jare gelede vir my haar smelt-in-die-mond vla koekie gegee, ek het toe bietjie gespeel met die resep en tot die volgende gevolgtrekking gekom vir die Smelt-in-die-mond Vlakoekies: Nuut!
5 Wenke vir die perfekte Smelt-in-die-mond Vlakoekies: Nuut!
- Vervang die vlapoeier met mielieblom (maizena) om die perfekte brosbrood koekie (shortbread) te maak.
- Vir die brosbrood koekie kan jy geursels soos suurlemoen, amandel, karamel en vanielje in gooi.
- Ek sit soms vars laventel blommetjies vir kleur by.
- As jy nie toegang het tot ‘n koekie druk masjientjie nie, dan kan jy die koekies in rolletjies oprol met kleefplastiek en dan oornag in die yskas laat verkoel om dan in perfekte wiele te sny en dadelik te bak.
- Die resep kan met gemak vermeerder word.
- Moenie die deeg in die yskas laat rus vir die koekie drukker nie, dit gaan te hard word en dan wil dit nie druk nie. Ek verkies om 4 e melk by die beslag te sit indien die deeg deur die koekie drukker gedruk gaan word. Vir die vleis meuletjie en handrol is dit nie nodig nie.
Resep vir Smelt-in-die-mond Vlakoekies: Nuut!
- 300 g Rama of Stork bake (botter is die beste) – by kamertemperatuur
- 150 g Strooisuiker
- 2.5 ml Vanielje geursel of geursel van keuse
- 350 g Koekmeel
- 170 g Vla poeier of vervang vir brosbrood met mielieblom (cornstarch)
- 5 ml Bakpoeier
- Knippie sout
Metode vir Smelt-in-die-mond Vlakoekies: Nuut!
- Room die botter eers totdat dit lig en donsig is. Voeg dan die suiker by en klits weer totdat dit romerig en veerlig is. Klits dan die geursel by.
- Sif die koekmeel, vlapoeier, bakpoeier en sout saam. Meng dit dan met ‘n houtlepel saam totdat die beslag egalig gemeng is.
- Jy kan hier nou besluit of jy die koekiedrukker masjientjie gaan gebruik en of jy die rolletjie gaan doen. Vir die koekiedrukker plaas dadelik die deeg tot amper bo in die buis en begin te druk. Maak seker jou panne is goed gespuit.
- Bak vir 10 minute by 200 ˚ C. Laat op die panne afkoel en plak op mekaar met ‘n basiese botterversiersel.
Wenke: Hierdie volgende skakel is gepak met die aller lekkerste Koekie resepte
Neute bestellings direk van die boer: Pekans en meer
HOEVEELHEID: 500 g koekies
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2015
Ek wil graag die nuusbrief weekliks ontvang. Baie dankie
Ek wil graag die nuusbrief weekliks ontvang. Baie dankie
Ek sal jou probeer laai van my kant af. Maar onthou jy kan ook self inteken deur die Newsletter se deel met jou naam en ook jou epos adres in te vul. Jy sal net een maal per week die nuusbrief ontvang. Vrydag tot saterdag sal die briewe afgelewer word. Groete Annelien
Hi Annelie
Ek Het hierdie koekies gister gebak presies soos resep sê en myne het almal onder gebrand – donkerbruin.
Kan jy asb help.
Baie baie dankie
Hallo Agness. Koekies wat onder brand is te wyte aan die hoogte van die rakkie in die stoof (indien jy konvensionele oond gebruik, dit is nou ‘n oond wat net met elemente bak). Loer gerus ook of jou oond wel die regte temperatuur is deur ‘n oond termometer te gebruik. Tik op Google die naam: Oven thermometor in en jy sal dan sien hoe die intrumentjie lyk. Dit word in die oond geplaas en dan verhit. Loer dan of die oond se stelling en die oond termometer dieselfde lesing gee. Verder kan die tipe pan waarop jy bak ook ‘n invloed he op die kleur van die koekie. Ek stel voor jy smeer jou pan goed en sprinkel dan mielieblom op die plaat…dit sal ‘n buffer wees vir die koekie om nie te brand nie, maar verder skuif ook jou rakkie hoër. Ek hoop jy kan iewers in hierdie brabbel wel ‘n antwoord vind. Laat weet hoe dit gaan. Groete Annelien Pienaar
Hi Annelien. Ek bly in die buiteland en vlapoeier is nie hier beskikbaar nie. Kan ek die vlakoekie resep maak met jou vlapoeier resep?
Groete!
Karen
Jy kan ja maar jy kan dit ook kroek en met mielieblom vervang. Dus is daar ‘n paar ompaaie.
Groete
Annelien Pienaar