‘n Dekadente Veertjiekoek basis word gebruik om die heerlike Suurlemoen meringue kaaskoek te maak en word afgerond met ‘n gekookte meringue as versiersel. Daar is drie resepte wat berei moet word en dus as mens hierdie resep aanpak, moet jy genoeg tyd toelaat vir die kaaskoek om te stol voordat die meringue versiersiel opgesit word. Lees asb die resep deeglik voordat jy wegspring. Geniet hierdie spesiale koek bederf.
Veertjie koek basis
420 g (2 k) strooisuiker
230 g (1 k) botter of goeie kwaliteit bak margarien
120 g (1 k) mielieblom
250 ml (1 k) volroom melk
4 groot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
280 g (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
Knippie sout
Voorverhit oond na 180 ℃ en berei 2 x 20-25 cm koekpanne, smeer panne met koekpansmeer p.12 in die Boerekos met ‘n Twist
Verroom botter en strooisuiker tot lig en donsig. Ongeveer 5 minute. Klits die eiers by een vir een. Meng die mielieblom met helfte van die melk en klits by die verroomde mengsel. Voeg die vanielje by en klits weer.
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vou die meel om die beurt met melk by die eiermengsel in.
Groot koeke: Bak vir 45 – 60 minute tot gaar. Laat goed afkoel voordat die koeklae gevul word. Verkoel vir 1 uur nadat afgekoel in die vrieskas of langer.
Gekookte meringue versiersel
Wenk: hierdie versiersel kan suksesvol verkoel word vir ‘n week of bevries vir 3 maande. Maak seker dit word in ‘n sakkie gestoor en al die lug word uit gedruk.
Weeg groot asb die eierwitte want dit is die maak of breek van hierdie meringue om stabile te wees.
90 g eierwitte, kamertemperatuur is krities
3 knippies kremetart
150 g witsuiker (1 ½ k)
15 ml (1 e) glukose stroop
65 ml water
2.5 ml vanielje geursel
Plaas die water, suiker en glukose stroop in ‘n kastrol en kook oor matige hitte met die deksel op vir 5 minute sodat kristalle kan oplos (dit is die lui manier), anders roer en was kante met kwassie af. Sodra die suiker opgelos het, haal deksel af en kook totdat die stroop 118℃ wys met ‘n suikertermometer. Sodra die thermometer 116 ℃ bereik, begin met die eier se voorbereiding.
Klits versigtig die eier witte met die kremetart tot sagte punt stadium (nie styf of vlokkerig nie). Giet die stroop in ‘n baie dun straaltjie by die eierwitte terwyl daar die heeltyd met die menger op stadig geklits word. Sodra al die stroop bygevoeg is, verhoog die spoed en klits vir 5 minute. Draai die spoed weer af na matige spoed en klits die eierwit mengsel totdat dit afgekoel het tot ongeveer 30 ℃ of kamertemperatuur.
Hou die meringue bedek met kleefplastiek of easy seal deksels totdat dit benodig word.
Suurlemoen meringue kaaskoek vulsel
250 g roomkaas
100 ml vars suurlemoensap
1 blikkie kondensmelk, kamertemperatuur
1 e gelatien in 50 ml kook water op gelos (of 3 velle in diep bakkie water vir 10 minute totdat die velletjies sag is, giet water uit)
250 ml vars room, yskoud (vars room is room wat jy by die verkoelde melk koop, nie langlewe room)
knippie sout
Belangrike nota tov gelatien:
Neem die gelatien en sprinkel oor die water en laat vir 10 minute hidreer. Daarna verhit 100 ml van die room tot onder kookpunt en roer die gelatien by en bly roer totdat die gelatien gesmelt het. Haal die kastrol van die hitte af en giet die warm room in ‘n glas bak.
Meng die gelatien room met kondensmelk en roer baie goed deur.
Meng dan die roomkaas, suurlemoensap, kondensmelk mengsel en sout saam. Klits die room styf en vou by die beslag in.
Die mengsel mag dalk loperig vertoon. Verkoel in yskas vir 20 minute en roer deur.
Konstruksie van koek
1. Sny elke koek in die helfte om ‘n vierlaag koek te lewer.
2. Voer die panne waarin die koeke gebak het met kleefplastiek uit. Plaas in elke pan ‘n koekskyf en skep dan ‘n kwart van die Suurlemoen meringue kaaskoek vulsel op elke basis uit en maak gelyk. Herhaal met die laaste laag koek en eindig met die kaaskoek vulsel. Verkoel vir 30 minute in die vrieskas. Lig dan een van die lae uit met die kleefplastiek en sit versigtig oor in die ander pan.
3. Hierdie koek moet in die vrieskas set vir 2 ure en daarna in die yskas vir 5 ure.
4. Haal die koek uit die yskas en laat vir 10 minute by kamertemperatuur staan om van die waterdamp ontslae te raak. Dit sal help dat die meringue laag nie afsmelt.
5. Smeer ‘n dik laag versiersel of spuit soos jy verkies, rondom die koek van die Gekookte meringue versiersel. Neem ‘n gasvlammetjie en verbruin die meringue reg rondom. Bedien dadelik.
Hierdie koek kan vir 2 dae goed bedek in ‘n koek yskas gestoor word, dit kan nog langer hou as die versiersel nie direk met die kaaskoek in aanraking is en net op die bokant gesmeer word. Dus kan of die hele koek of net dele daarvan met die versiersel gesmeer word.
Geniet hierdie dekadente koek!
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2020
Hoeveelheid: 12 porsies
Wow klink awesome…..