
Panna Cotta is vir my amper soos die Crème Caramel van gestolde nageregte maar een verskil is ons bak hierdie nagereg nie, maar smelt en dan stol dit op sy eie tyd. Vir my moet die perfekte Panna Cotta NIE ‘n vetterige nasmaak gee, maar fluweel sag met ‘n sagte noot van die infusie van die geur van jou keuse wat subtiel deur kom.
Ek benader die geure deur dit in die verhitting stadium van die room en die melk in te bring. Items soos koffie bone, kardemom, ster anys, kaneel stokkies, vanielje peule, rooibos tee, Earl Grey of enige ander soort tee van jou keuse. Sou jy dalk eerder ‘n ekstrak van die tee’s wil doen stel ek voor jy neem ongeveer 100 ml van die melk se hoeveelheid en vervang dit met kookwater. Week die tee vir so 5 minute in die kookwater, dreineer en gebruik dan soos normaal saam met die verhittings fase van die room en die melk.
Indien jy verkies om geursels te gebruik dan kan jy heerlik speel met jou voorkeure. Selfs essensiele olies soos rose geranium, lavender, lemon, cinnamon bark, sweet orange kan gebruik word MAAR gebruik soos volg. Drup ‘n druppel op ‘n piering en trek ‘n tande stokkie daar deur. Die tande stokkie kan dan in die melk gekook word vir deur geure om in die melk en die room in te trek. So min het jy nodig. Oppas vir eu-de-too-much!
Bediening van ‘n Panna Cotta is vars, dus maak ‘n coullis van bessies en kook met bietjie suiker en laat afkoel…bedien dan as ‘n stropie oor. Jy kan natuurlik ook ‘n jellie aan maak en as die Panna Cotta gestol het, ‘n mooi lagie giet. Die lys vir ‘n mooi Panna Cotta en smaaklike een hou nie op.
Almal is bang vir Gelatien maar dit is nie so moeilik as jy die basiese beginsels volg om die gelatien te hidreer en dan weer te smelt. Gelatien MOET oor water gesprinkel word indien jy met die poeier vorm werk, vir gelatien velle moet dit in water hidreer word en dan saam met die room en melk in gemeng word om te kan smelt. Maar vir nou werk ons met die poeier weergawe. Ek wil tog maan dat ek vind dat die massa mates vir gelatien nie so suiwer is wat ons in bakkerswinkels kry. Koop by jou gunsteling kettingwinkel groep die ingevoerde soort soos Sheridan’s ens. Ek het net te veel al in my lewe bloutjies geloop met die massa maat gelatien. Indien jy dalk iemand het wat vegan is kan jy in dieselfde hoeveelheid agar-agar (china grass) gebruik om mee te stol.
Wanneer gelatien gesmelt word vermy ek die mikrogolf want die kanse vir gelatien om te kan kook is 99.9% en dit sal tot nadeel van jou eindproduk wees.
Laktose vrye opsie: gebruik enige neute melk en dan klapper room!
Kom ons spring aan die werk!
60 ml (4 e) koue water sprinkel 10 ml (2 t) gelatien oor die water en MOENIE roer nie! Rus vir 10 minute en hou eenkant tot nodig.
315 g (1 ¼ k) vars room (NIE lang lewe room)
190 g (3/4 k) vol room melk
50 g (1/4 k) wit suiker
Infusie van keuse vir geur
Kleursel kan ook na gelang van smaak by gevoeg word.
Knippie sout.
Neem 4 houertjies en sproei met kleefwerende kos sproei…pansmeer gaan nie hier werk! Hou eenkant.
Plaas die melk, room, suiker en bestanddele om te geur in en bring oor matige hitte tot kookpunt. Sodra die melk begin borrel verwyder van hitte. Onthou jy met die heeltyd roer anders brand die melk aan. Voeg dadelik die gelatien by en sout by die warm mengsel en roer goed deur sodat die gelatien kan oplos.
Geur dan en kleur na smaak voordat die finale stap gedoen word.
Neem ‘n siffie en giet die melk mengsel daar deur om moontlik stukkies gelatien te verwyder. Plaas dan die Panna Cotta’s in die yskas om oornag te stol. Ontvorm of bedien net so.
Sjokolade weergawe: 30 ml kakao in die melk en room fase.
Hoop ek sien jou spog werk iewers op Sosiale media en onthou om my te tag…
BKT groete
Annelien Pienaar
www.annelienpienaar.co.za
1998, Hospitality studies, Tshwane north FET.