Ons geniet gereeld tuis ‘n Vleislose Maandag. Veral met die manne in die huis wat lief is vir vleis moet ma maar altyd planne maak om die are skoon te hou. Ek hou van vegetariese disse en sal altyd vir myself so ‘n bederf ietsie op die kant maak. Hier is my weergawe van ‘n herderspastei met al my gunsteling bestanddele. Daar is nie regtig mates by hierdie resep want ek maak maar die yskas skoon elke week met groente wat ‘n verval datum het…dan word dit ‘n gereg van een of ander aard, soos hier gesien.

1 kg kapok aartappels, gaar (oorskiet werk perfek)
Vegan plant botter of gewone olyf olie sal werk vir die plat druk van die kapok aartappels.

Ek loer maar dan in die yskas en haal groente uit wat dringend vewerk moet word. Hierdie week was daar eiervrug, seldery, sampioene, rooi uie, wortels, soetrissies en murgpampoen wat verwerk moes word. Ek het soos volg te werk gegaan.

Neem ‘n 20-25 cm koekpan. Voer die kante uit met bakkerspapier, ‘n dubbel laag. Hou eenkant. Smeer ook die kante van die papier met olie.

Neem die kapok aartappel en smeer dit met ‘n geoliede lepel teen die kante en die bodem van die koekpan. Amper soos ‘n dik laag pasteikors…

Neem dan die groente van keuse en sny in vorms van keuse. Roer braai apart en pak dan in lae op mekaar. Sout en peper na smaak. Ek is lief vir tiemie of origanum saam met die groente. Bak die pastei in die oond vir 45 minute by 180C.

Sprinkel die gebak dik met mozzarella of enige ander kaas, bak verder om te verbruin vir 10 minute. Laat die gebak vir 10 minute afkoel en verwyder uit die losboom pan. Trek die kante van die papier af en siedaar, ‘n pragtige Vegetariese Herders pastei wat op sy eie staan… Smaaklike ete!

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2020 deur Annelien Pienaar Food Consultant
Hoeveelheid: 6-8 porsies