Grondbone botter en Heuning beskuit is ‘n heerlike oggend ontbyt happie en wat sommer vroeg oggend so bietjie die derms vul vir ‘n besige dag.

Wenke: Hierdie resep verleen hom daartoe dat alternatiewe botters soos om neute botters in die plek van grondbone botter te gebruik moontlik, selfs sesame paste of hummus kan gebruik word! Nogal heerlike protein ryke idees wat gesond is. Die bruinsuiker kan tenvolle vervang word met heuning indien jy soos ek baie heuning op die plaas het in dieselfde verhouding.

1 kg koekmeel
150 g sagte bruinsuiker (treacle suiker)
150 g geroosterde, ongesoute grondbone (opsioneel as jy crunchy/chunky grondbone botter gebruik)
500 ml gerolde hawermout (oats, groot vlokke)
15 ml psyllium husk poeier (toegevoegde betaglucans vir goeie konsentrasie en vele ander goedheid) opsioneel indien jy nie in voorraad het
½ t kaneel
15 ml (1 e) bakpoeier
¼ t koeksoda
500 ml karringmelk/amasi
350 g botter/bakkersmargarien
500 ml grondbone botter
125 ml heuning of egte esdoring (maple stroop)
2 large eiers, goed vooraf met ‘n vurk geklits

Voorverhit die oond tot 170C. Berei beskuit panne voor en hou eenkant.

Meng alle droë bestanddele saam.

Smelt die botter, grondbone botter, heuning saam, moenie kook nie, die mengsel moet net loperig word en eenvormig. Laat effens afkoel. Voeg dan die karringmelk by en laaste die eiers.

Maak ‘n gat in die middel van die meel mengsel en giet die gesmelte mengsel daarin. Meng per houtlepel liggies totdat die bestanddele saam kom. Moenie die deeg oorwerk nie.

Druk die deeg in voorbereide beskuit panne, druk in die panne, sny in vingers vooraf, of rol bolletjies en bak in kort boepens happies…

Bak vir 35 minute totdat die beskuit geset, bruin en gaar is. Laat die beskuit BAIE goed afkoel. Plaas die pan met beskuit in vrieskas vir ‘n uur voordat jy in vingers sny. Rede, die beskuit krummel minder en sny baie netjieser.

Droog die beskuit teen 90 tot 100C vir 3 tot 5 ure met die oond deur op ‘n skrefie oop sodat vog kan ontsnap.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2016
Hoeveelheid: ongeveer 30 vingers