Souttert is ‘n heerlike manier om alle oorskiet vleis en of groente wat reeds vooraf gaar gemaak is in so ‘n tert te verwerk. Meer nog, jy kan die tert ongebak of gebak bevries en net later weer verder bak. Klink te goed om waar te wees? Kom ons kyk na alles en nog wat sodat ons die feite het en ons lewens baie makliker kan maak vir naweke weg en sommer vir kuiertye sonder ure voor die stoof! Hierdie resep is korsloos en kan wel sonder enige aanpassings met ʼn kors berei word. Loer gerus op die webtuiste rond vir my heerlike Souttert en Quiche resepte. In die Boerekos met ʼn Twist kookboek is daar ook wonderlike en maklike kors resepte…nou onthou ek ook in die Vleiskookboek is daar ook heerlike vinnige kors idees.

Witsous; die woorde wil mens sommer net hier in die spore stop en eerder die resep oorslaan maar ek het vir jou goeie nuus. Ons kan hierdie bergie op twee maniere oorsteek!

a. Boerekos met ʼn Twist die kookboek het ʼn SLIM plan vir min moeite witsous deur ʼn Witsous poeiermengsel te brei wat jy in grootmaat doen, hou in die vrieskas en gebruik soos nodig. My studente kinders is hul ma ewig dankbaar oor hierdie! Veral as jy op kamp gaan voeg jy net kookwater by.

b. Ordentlike tradisionele witsous! Die witsous word gemaak met botter of 80% vet inhoud margarien wat gesmelt word en daarby word ʼn persentasie meel gevoeg en liggies gebraai. Daarna, en hier is ʼn sleutel tot die sukses, voeg vooraf verhitte melk (nie gekook, net af van warm) by die mengsel in die kastrol en DAN…die gebruik van ʼn metaal draad klitser sal korte mete maak met klonte. Voeg die melk in ʼn dun straal by en hou aan klits totdat al die melk in gemeng is. Hou aan klits totdat die mengsel verdik het. Jy kan ook witsous in die Mikrogolf maak op dieselfde beginsel MAAR voeg net ʼn kwart van die melk by in die begin en roer goed deur…mikrogolf vir 2 minute en roer dan die res van die melk by en kook vir 8 minute en stop elke minuut en werk deur met whisk om klonte te voorkom.

Witsous
50 g (4e) botter
90 g (8 e) koekmeel
1 k warm melk

Volg die metode soos hierbo bespreek. Hou die witsous eenkant, smeer botter bo-op om klont te voorkom en laat goed afkoel.

3 snye brood (enige brood)
2k kook melk
2k gaar snoek, gevlok
2k Cheddar kaas, gerasper
30 ml (2e) botter, gesmelt
4 eiers, eksta groot, geklits
1 ui, klein
1e pietersielie, gedroog
Sout en peper na smaak

Voor verhit oond na 180℃ en smeer ‘n geskikte oondpan. Individuele porsies kan gemaak word soos mini kolwyntjies. Onthou net dat die baktyd verkort.

Week die brood in die gekookte melk en laat afkoel tot kamertemperatuur.
Voeg al die bestanddele saam en roer goed deur. Skep in gesmeerde bak en bak vir 35-55 minute of tot geset.

Ek vind dat ʼn Souttert eers goed moet afkoel voordat jy dit bedien, indien jy te haastig is sal die Souttert meer soos roer eier uit skep as een massa.

Variasies kan ook hier in kom op die vleis deel soos salm, gerookte worsies, biltong en vele meer.

Wenk oor bevriesing:
1. Bevries met of sonder kors, ongebak. Haal uit en sit direk in koue oond, skakel oond aan en neem tyd vanaf die oomblik wat die oond op temperatuur kom. Bak dan soos normaal. Hierdie is vir terte nie dikker as 5cm. Anders verleng die baktyd sodat die tert tot in die middel deur gebak is.
2. Parbaking: lieflike plan deur die tert te bak totdat dit net gestol het vir so 75% van die tyd. Koel goed af, bedek en vries. Herhaal dan punt no 1 en bak dan vir die res van die tyd nodig of soos dit jou pas.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2022
Hoeveelheid: 1 groot familie souttert vir 6 tot 8 mense…let wel my Filistyne eet elke ʼn halwe bak as hulle van die boord in kom!