Lemon and Poppyseed is seker een van die lekkerste Muffins in die handel. Ek het lang gewoeker in die kombuis om ‘n heerlike klam een te ontwikkel en hier is dit nou.
‘n Heerlike kinkel wat jy kan inwerk met hierdie resep: voeg 45 ml (3e) klapper by die bestaande beslag! Jou gaste gaan gaande wees oor die nuwe subtiele smaak en niemand sal ‘n vinger op die geheim kan plaas!
280 g (2 k) koekmeel, gesif
1 e mielieblom (maizena)
5 ml bakpoeier
½ t koeksoda
¼ t sout
200 g (1 k) witsuiker
2-4 e papawersaad (hoeveelheid, eie keuse, chia sade kan ook gebruik word)
1 medium grootte suurlemoen se zest
115 g (1/2 k) botter of 80% bakkersmargarien
2 large eiers, kamertemperatuur
240 g (3/4 k plus 1 e) karringmelk, plain joghurt of suurroom of mengsel van beide
2.5 ml (½ t) vanielje geursel
Voorverhit oond na 180 C en berei ‘n 12 gat standaard muffin pannetjie voor deur dit met kolwyntjie papiertjies uit te voer.
Sif koekmeel, mielieblom, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Roer die sade by en meng deeglik. Voeg laaste die zest by en roer weer goed deur.
Verroom die suiker en botter vir 5 minute tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed met elke byvoeging. Voeg die karringmelk by en klits vir 1 min deeglik deur.
Met ʼn draad klitser vou die meel by die mengsel in. Ek ondervind dat met die menger wat vir jou die meng werk doen in hierdie laaste fase, dit verseker ʼn invloed het op die tekstuur en die manier hoe die muffin rys. So vou in per hand met ʼn draad klitser (whisk) totdat dit net net bykemaar kom, klonterig vertoon is perfek en skep dan uit in die holtes. Skep eers so uit sodat elke holte halfpad gevul is en vul dan weer op. Ek gebruik ʼn 100ml roomys scoop om die holtes sommer 1 slag te vul.
Bak vir 20-25 minute by 180C. Reguleer asb die temperatuur met ʼn eksterne oond termometer. AS die muffins te warm bak sal die interieur baie droog wees.
My ander wenk is om seker te maak jy sit ʼn stoombakkie vooraf in die oond. Enige metaal bakkie sal werk van so 10 cm deursnit of halwe broodpannetjie. Vul met n paar ysblokkies en dit sal ook beter rys verseker met jou gebak in alle opsigte. Onthou hierdie wenk is van toepassing op ALLE meel gebakte produkte.
Bron: www.annelienpienaar.co.za 2020 Muffinbak klas deur Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 12 standaard muffins of 6 groot.
Baktyd vir 6 groot: 170C vir 30-35 min