ʼn Heerlike gevulde Ciabata is nooit te versmaai en die grootste ding van ʼn Ciabata is die GATE! As ek Suurdeeg klasse aanbied is dit altyd die eerste item op die lys wat mense wil leer bak, die brood met die gate. Ek lig dus vandag die sluier effens en ek leer julle om met gis wel ʼn mooi gaterige ciabata te bak. Die geheim is egter goeie kwaliteit meel, soos Steengemaalde meel van Eureka mills, Lowerland in Prieska (100% organies), Millstone, Gideon meule, Champaigne valley meel. Hierdie gee rekbaarheid en krag aan ʼn ciabata en ook die gate… kom ons begin!

Wenk: verkoel die deeg sodra die tweede vou proses voltooi is en verwerk dit die volgende dag. So kry jy mooier gate EN die GI verlaag drasties, smaak verbeter en jy het ‘n wenner brood! Loer na my Suurdeeg klasse by die volgende skakel: Klasse

420 g (3k) steen gemaalde koekmeel
5 ml (1 t) sout
5 ml ( 1 t) heuning of witsuiker of opsioneel
5 ml (1 t ) brouersgis (los op met water uit die resep) of kitsgis wat jy direk in meel kan gooi, maar (brouergis se smaak is tradisioneel vir ‘n biga styl brood)
1k kaas blokkies (1 cm x 1 cm) kaas van keuse: cheddar, mozzarella, gouda
1k olyf ringe of
1k songedroogde tamatie stukkies (jy kan natuurlik dit vermeng ook)
400 g water, direkte koue kraan water
60 ml olyfolie (hou eenkant vir voue)

Meng al die droe bestanddele saam. Voeg die songedroogde tamaties, olywe, kaasblokkies by en meng goed deur met n houtlepel.

Voeg die water by en roer met ‘n HOUTLEPEL deur sodat die deeg bymekaar kom. Indien jy dalk die deeg wil werk met die hand, doen so. Geen harde knie aksie wat die bestanddele mag verander in ‘n pappery.

Onthou hierdie is ‘n geen knie broodjie. Sagkens werk.

Giet 2 e olyfolie oor die deeg en vryf ook die bak uit met die olie. Bedek die deeg in bak met kleef plastiek en laat vir 2 ure rus.

Neem die res van die olyfolie en giet oor die deeg. Maak jou vingerpunte nat met die olie en maak die kante van die deeg versigtig los van die bak. Lig die deeg op om in die helfte oor mekaar te vou. Daarna draai die bak en vou weer oor mekaar. Laat die deeg 30 min rus en vou weer.

Hierna, keer die deeg uit op n meel betrooide oppervlak sonder om die deeg uit die bak te trek, jy wil die borrels behou, dus skraap die deeg versigtig uit die bak. Versigtig rek die deeg in ‘n reghoek en vou dit in derdes op mekaar. Rus die deeg dan op ‘n bakplaat wat met ‘n Teflon matjie of bakkers papier uitgevoer is. Bedek met ‘n klam vadoek. Rys vir 20 minute. Skakel oond aan en sit ‘n gietyster pot met sy deksel in die oond om vooraf te verhit by 220 C. Nota: Die kastrol waarin jy bak word NIE gesmeer nie. Die hitte van die gietyster sal die brood NIE laat vasbrand nie. Hierdie is deel van die tegniek om ‘n ciabata te bak. 

Lig die deeg versigtig op en sit in die warm pot. Plaas deksel op en bak vir 25 minute by 220C. Haal deksel af en bak ‘n verdere 10 minute. Laat afkoel en bedien met heerlike smere.

Wenk: Jy kan die brood sonder ‘n vulsel bak. Tog kan jy ook dink aan vars kruie in die deeg in te vou met heerlike stukkies feta kaas wat nie smelt, stukke knoffel en basillie kruid of rocket…Die opsies is nimmereindigend. Jy kan ‘n Foccacia maak deur die deeg direk in ‘n geoliede oondpan te plaas en dan te rek en strek totdat dit in die pan pas. Ek skat ‘n groot pyrex bak is perfek vir hierdie hoeveelheid deeg. Onthou as die deeg nie wil rek, dan rus jy dit vir 5min en trek en hou so aan totdat dit in pas. Dan…los vir 30 min op warm plek, bedek. Sprinkel met olyfolie, druk gate met jou vingers en sit kruie, olywe en songedroogde tamaties in…bak by 220C vir so 30 min tot bros. Haal dadelik uit pan en laat effe afkoel en sny op.

Loer gerus na my Suurdeeg klasse onder die Klas afdeling by www.annelienpienaar.co.za waar ons baie dieper delf in die geheimenisse van Suurdeeg.

Geniet!

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003
Hoeveelheid: 1 groot ciabata genoeg vir 8 persone