Wie hou nie van die smaak van geskroeide mielies nie? Daardie nachos met heerlike guacamole en vurige tamatie salsa is legendaries, of ‘n heerlike kaassous om in te doop…soveel opsies of net ‘n heerlike tortilla gevul met avokadopeer, spek, slaai en ‘n sousie. Maar vir jare het die resep my ontwyk weens tegniese aspekte soos ‘n kalk tekort in ons mielies van SA, maar baie navorsing het my tot die volgende resep gelei en my gesin geniet elke weergawe wat ek op dis aan hulle. Hoop julle gaan hierdie resep sommer baie geniet.
Waarskuwing: Lees deeglik voordat jy net wegspring en gaan koop!
Masa Harina is die perfekte meel wat reeds al die middels in het om net water by te voeg. Maar dit is baie duur want in SA word dit ingevoer. Vir hierdie resep koop ek direk by Lowerland in Prieska hul polenta aan vir hierdie resep. Hoekom? Hierdie is GMO vrye meel, die volledige mielie is teenwoordig met die kiem, endosperm en semel in plek en dit is wat mens nodig het om ʼn meel te kry wat sal klou en ʼn mooi deeg te vorm. Jou gewone gesifte mieliemeel gaan nie die truuk doen nie. Kyk ook uit vir meulenaars wat ongesifte mieliemeel verkoop.
250 g ongesifte polenta of medium growwe mieliemeel, ongesif
15 ml (1 e) olie of botter
2.5 ml sout
15 ml (1 e) xanthan gum
250 ml kook water, ek verkies hier om water te weeg en die gramme mate is 250g
Meng al die droë bestanddele saam. Voeg die kookwater en olie by en meng goed deur met ʼn houtlepel. Haal uit die bak en knie tot ʼn stywe deeg vir 2 minute. Neem ʼn neute bolletjie grootte van die deeg en rol ʼn bolletjie in jou palm. Kyk baie mooi na die tekstuur en as jy die bolletjie liggies plat druk moet dit nie kraak en bars maar mooi glad uitsit na die kante. As dit te droog is moet jy so 3 e kookwater byvoeg om die konsistensie reg te kry.
Hier kom die kruks van die saak in. Elke verskaffer se mieliemeel / polenta is anders en selfs die oesjaar en seisoen maak ʼn reuse verskil. Tortillas maak is ʼn saak van op gevoel en sig werk.
Rus die deeg in ʼn plastiek sakkie dig toe gemaak. Die deeg droog ongelooflik maklik uit. Rus vir 30 minute.
Verdeel die bolletjies in 15 ml tot 30 ml balletjies afhangend hoe groot jy die stukke wil hê. Maak asb eers al die bolletjies klaar voor jy begin braai. Neem twee stukkies stewige plastiek en sit een stuk oor een van die boeke en plaas dan die bolletjie daarop en druk effe met die palm plat. Sit dan die ander stukkie plastiek op en druk dan met ʼn egalige beweging met die tweede boek bo-op. Draai die tortilla 90 grade en druk weer plat. As jy nog platter wil gaan kan jy dan hier met ʼn rol stok oor die sakkie rol vir dunner. Sorg dat jy altyd met 6 klaar gevormde stukke sit want dit braai baie vinnig en as jou pan te lank staan mag dit die deeg brand.
Volgende het ons twee opsies vir die gaarmaak van die deeg. Jy kan vlakvet braai of droog braai.
Droog braai: maak ʼn gietyster pan warm en braai dan die deeg vir 3 min aan beidekante of tot mooi bruin. Die deeg moet vir wraps dan sag gehou word tussen lagies vadoek om uitdroog te voorkom. Indien jy verkies om hierdie deeg te droog vir nachos, dan word die tortilla in kwarte gedeel en in ʼn warm oond van 100℃ gedroog vir ʼn uur. Jy kan ook die trotilla oor ʼn vorm droog om ʼn mooi bakkie of halfmaan te vorm. Stoor lugdig in die kas of in die yskas. Jy kan ook oorweeg om ʼn gegeurde sout in die deeg in te werk as jy ʼn gegeurde chippie wil kry.
Vlakvet braai: voeg ongeveer 1 cm diep olie in ʼn giet yster pan en braai dan die deeg tot goud bruin en bros. Sprinkel met groente sout uit die Boerekos met ʼn Twist kookboek vir ʼn heerlike bederf saam met doopsouse ens.
Bron: Annelien Pienaar, 2020, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 10 x piering grootte tortilla’s