Suurlemoen is seker een van die veelsydigste vrugte wat as sout of soet aangewend kan word. Met ʼn oormaat suurlemoene elke jaar vries en preserveer ek sommer baie vir die maande wat vars suurlemoene nie beskikbaar gaan wees. Hierdie resep kan ook as ʼn tert gebak word en lyk ook pragtig op ʼn koekbord ipv die tradisionele blokkies of vingers. Die basis van hierdie koekie is ʼn “short bread” met dan die heerlike suurlemoen vla vulsel. ʼn Moet hê happie vir jou huis oor feestelike dae.
Wenk: Die koekie vries goed.
Brosbrood koekie basis
280 g (2 k) koekmeel
100 g (1/2 k) witsuiker
¼ t sout
230 g (1 k) botter, in blokkies gesny
Voor verhit oond na 180 C. Smeer ʼn bakplaat of vuurvaste glasbak met pansmeer, mates: 22 x 22 cm ongeveer.
Sif die meel, suiker en sout saam. Plaas al die bestanddele in ʼn voedsel verwerker en verwerk tot ʼn deeg vorm. Druk die deeg in die voorbereide pan en maak so gelyk as moontlik deur met ʼn roller of ʼn ander pan van dieselfde grootte in die basis vas te druk.
Prik die basis van die koekie. Bak vir 20 minute.
Vulsel
200 g (1 k) witsuiker
35 g (3 e) koekmeel
4 groot (large) eiers, vooraf goed met ʼn vurk gelits
4 medium grootte suurlemoene, gezest en sap uit gedruk (3/4 tot 1 k) sap
ʼn knippie sout
Versiersuiker vir versiering
Sif die suiker en meel saam. Voeg die eiers, suurlemoensap en skil by en klits die mengsel goed deur met
ʼn draad klitser.
Giet in die gebakte kors en bak ʼn verdere 20 minute tot geset.
Laat die gebak eers goed afkoel. Plaas in yskas om goed te set vir ongeveer 2 ure of langer. Sprinkel met versiersuiker en sny in blokkies of vingers.
Hierdie vingers hou vir 4 dae goed, daarna begin die basis sag word.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2016
Hoeveelheid: 24 blokkies of soveel as wat jy wil hê. Of een groot tert.