Charlotte russe is een van my persoonlike gunstelinge. My kinkel in die resep is die sjokolade rolkoek en dan kersies ipv aarbeie. Jy kan basies enige bessie in hierdie resep se vulsel gebruik. Die rolkoek het ek in kwarte gedeel en in lae op mekaar gesit. Die wonderlike ding van hierdie vulsel resep is die feit dat dit vrieskas vriendelik is en kan dan as ‘n roomys koek voor gesit word of net as ‘n gewone gestolde lagies koek met die mousse tekstuur. Hoe dit ook al is, dit is verseker die lekkerste en mooiste bederf aan gaste.
Switserse rolkoek
1 x Rolkoek
Sodra die koek klaar gebak het, verdeel in kwarte en laat goed af koel. Daarna verkoel in die vrieskas tot nodig.
Crème anglaise (vla vulsel)
500 ml volroom melk
6 eier gele van jumbo grootte(vries die eierwitte vir latere gebruik OF Pavlova in die BKT kookboek is heerlik)
100 ml witsuiker
2.5 ml vanielje geursel
15 g gelatien gesprinkel oor 50 ml water
Bring die melk net tot by kookpunt en laat eenkant staan.
Klits eiergele en suiker tot baie lig en romerig.
NB: Voeg bietjie van die warm melk by die eiergele mengsel en klits goed deur. Hou so aan om die melk bietjie vir bietjie by te roer en keer dan die inhoud terug in die kastrol.
Kook vir 4 minute oor matige hitte tot gaar of mikrogolf net tot op kook. Wees versigtig om te lank te kook. Verwyder van plaat en roer die gelatien by en hou aan roer totdat die gelatien opgelos het. Dit is ʼn kritieke stap van die resep.
Druk kleefplastiek op die vla vas en laat goed afkoel voordat dit in die Charlotte russe se vulsel gebruik word.
Charlotte russe vulsel
50 – 100 ml drank van keuse (ek verkies ʼn likeur soos kersie of amarula) indien alkohol verbode is kan cranberry sap of appelsap in die plek gebruik word om die koek te benat.
1 k kersies of enige bessie van keuse (geblik is ook reg)
125 ml yskoue room
Week die vrugte in die likeur oornag verkieslik. Daarna dreineer en verf die vloeistof oor die koek lae.
Plaas dan ʼn stuk kleef plastiek oor ʼn verkoelde bakplaat. Hierdie kleef plastiek moet groot genoeg wees om die koek in toe te vou om te stol.
Die vla moet begin dik word en roer van tyd tot tyd goed deur sodat die hitte eweredig versprei. Sodra dik roer die vrugte by. As die vla te loperig is sal die vrugte ondertoe sak. Plaas die vla vir 30 min in die yskas in ʼn glas bak. Haal uit en roer goed deur. Vou die styf geklopte room in. Skep dan op die lae van die koek. Vou toe met kleef plastiek en vries die koek vir ʼn uur of oornag. Jy kan besluit of dit ʼn roomys effek gaan wees en of jy dit wil vars en sag bedien. Stol dan in die yskas as jy dit ʼn mousse effek wil gee en nie roomys.
GENIET
Bron: www.annelienpienaar.co.za