So vinnig soos jy kan sê blits is hierdie roomys gemaak en die volgende dag gereed om te eet. Hierdie resep is ʼn basiese resep en ek sal al die variasies vir julle volledig aandui.

Nota: Ingedampte melk (Evaporated milk) word in SA in verskillende massa’s verkoop. Ten tye van hierdie resep se ontwikkeling het ek met Pick ʼn Pay se noname brand gewerk van 410 g. Indien jy nie 410 g op die rak kry sal 385 g ook werk. Die verskil kan dan met room aangevul word of melk. Meng die melk of room saam met die kondensmelk en nie die ingedampte melk nie asb. Dit sal ʼn groot invloed op die tekstuur hê.

1 x 410 g ingedampte melk (ideal milk, carnation melk)

Neem die blikkie en plaas vir presies 1 uur lank in die vrieskas. Daarna haal uit en plaas in die yskas, heel agter in (nie in die deur) vir 6 ure. (

1 x blikkie kondensmelk, kamertemperatuur
10ml gelatien poeier of 2 velle gelatien (velle gelatien moet vooraf in water geweek word om sag te word)
10 ml geursel van keuse
100 g of 1 k sjokolade van enige soort grof gekap / koekies op gekap / lekkergoed soos smarties stukkend gedruk / bessies verkieslik bevrore / toffies / fudge / neute

Sodra die ingedampte melk deur die verkoelings proses gegaan het, klits dit met die draadklitser van jou menger tot trippel die volume. Dit moet een stywe massa vorm.

Los die gelatien in 50 ml kookwater op. Vir die gelatien velle, plaas in die kookwater en roer totdat dit soos stroop lyk. So ook vir die korrels.

Voeg die kondensmelk, ekstra melk en of room as die ingedampte melk nie genoeg was, gelatien en geursel saam. Meng deeglik. Roer dan by die styf geklitsde ingedampte melk en klits deeglik deur.

Skep die mengsel uit in ʼn vrieskas vriendelike houer en vries vir 12 ure.

Indien daar stukkies in die roomys gaan moet die roomys eers vir 4 ure gevries word, dan sodra dit wil begin stol die stukkies by gevoeg word, goed gemeng en dan gelaat word om te stol oornag. Indien die stukkies te vinnig bygevoeg word voordat die roomys dit word, sal al die stukkies afsak en nie die gewenste effek he.

Indien ʼn roomys masjien gebruik sou word: verkoel die mengsel vir 2 ure in die vrieskas en plaas dan in die masjien om dan te verwerk. Onthou om die roomys maker se bak 24 uur voor die tyd in die vrieskas te plaas.

Kant nota: Vir hierdie foto is daar ingelegde kersies gebruik en nie vars kersies. Dit het wel ‘n invloed op die tekstuur. Daar is ‘n koekie krummel basis van 100 g tennis beskuitjies met 4 e botter gesmelt gebruik en in ‘n koekpan gedruk. Hoe om te verhoed dat die bessies na bo styg of enige ander bestanddeel? Of jy nou met die roomysmaker werk en of vrieskas langpad metode…verkoel met vrieskas en elke uur word daar met die draadklitser deur geroer totdat die mengsel dik word en soos styf klitsde room lyk, voeg dan variasie bestanddele by. Dit sal nie na bo styg. So, vir die foto het ek die langpad gevolg en toe die mengsel se dikte reg is, bessies bygevoeg en in die reeds voorbereide en verkoelde pan geskep. Onthou om die pan met kleefplastiek uit te voer. 

Bron: www.annelienpienaar.co.za, 2020-01-02
Hoeveelheid: 500 ml roomys