Energie stafies is iets wat ek gereeld in my Filistyne se kospakkies sit vir daardie namiddae waar die ure te lank raak en die moegheid intree. Hierdie stafies is gepak met goeie bestanddele wat vinnig energie verskaf met die toevoeging van heuning en grondbone botter maar die volhoubare energie wat vir nog ten minste 3 ure vry gestel word dmv die protein in die sade en neute. Die sade soos chai sal die gevoel van versadinging gee en bydra tot goeie konsentrasie tydens sport en lang studie sessies. Hierdie stafies moet egter in moderasie geneem word. 100 g blokkie per dag.

Nota: Grondboontjie botter: enige tekstuur kan gebruik word. Maak seker jy gebruik suiwer grondbone botter sonder enige ander suikers of stroop wat bygevoeg word. Of koop geroosterde grondbone en kap dit fyn totdat dit romerig word en smeerbaar.

Neute alternatief: vir diegene wat allergies is vir grond en boom neute kan tahini paste, kekerertjie (chicpeas) fyn gemaal word of selfs hummus in die plek van grondbone en neute botters gebruik word. Jy kan ook ‘n kombinasie van die tahini, chicpea en hummus doen. Die tekstuur moet wel op eindig soos grondbone botter.

Die geheim van die resep: Druk baie, baie goed vas…rol die bestaddele goed vas en laat staan vir ‘n dag voor jy sny. Binne of buite die yskas is reg. Jy gaan baie spyt wees as jy hierdie stappie nie mooi gedoen het. 

320 g hawermout (enige handelsmerk is geskik, net nie gegeurde of kits “oats”
460 g grondbone botter
500 g heuning
300 g pekans / pistasie / macadamia neute medium grof gekap
350 g gedroogde vrugte soos rooibosbessies (cranberries) of perske stukkies of appelkoos stukkies of sultana’s of gekapte dadels.
100 g sonneblom saad
100 g sesam saad
150 g pampoen saad
50 g chia saad

Pan: 40 cm by 30 cm pan wat gesmeer is met Pansmeer p.12 en dan uit gevoer is met ‘n silikoon bakkersvel of bakkerspapier.

Smelt die heuning en grondbone botter saam…MOENIE dit kook nie. Jy kan dit selfs in die mikrogolf net vinnig ‘n draai gee en dan deur roer sodat dit goed meng sonder om taai en dik te wees.

Meng al die bestanddele in ‘n baie groot mengbak saam. Gebruik ‘n houtlepel vir die taak. Sodra die mengsel goed deur gewerk is druk in die vooraf bereide pan.

Hier kom die hele kruks van die saak. Omdat hierdie koekie nie gebak word, kan dit neig om uit mekaar te val. Die geheim is om die bestanddele baie, baie goed vas te druk. Wat goed werk is ‘n rolstok sonder handvatsels of ‘n dik dowl stok te neem nadat die beslag goed vas gedruk is, dan vir ten minste 10 minute van hoek na kant te rol totdat die oppervlakte spieël glad geword het. ‘n Ander opsie wat ook lekker werk as jy twee panne van presies dieselfde grootte het en dan die ekstra pan bo-op die stafies te plaas en dan 4 bakstene of iets baie swaar daarop te laat rus vir ‘n uur. Dit sal ook help om dit perfek plat te kry. Laat dan afkoel.

Smelt dan ongeveer 200 g bakkers sjokolade en smeer ‘n baie dun lagie oor die oppervlakte. Net voordat die sjokolade te hard set, neem ‘n dun lem mes soos ‘n groente messie wat in kookwater geweek word, en sny dan in blokkies. Ek sny die stafies ongeveer 5 cm x 5 cm dik en weeg ongeveer 60 g elk. Dit is genoeg vir ‘n daaglikse porsie energie.

Hoeveelheid: Ongeveer 30 stafies of meer
Bron: Annelien Pienaar, 2019, Breinkos klas, www.annelienpienaar.co.za