Hierdie is een van my resepte wat ek reeds vir jare al bak nadat ons as student die opdrag gekry het om bakkerspersentasies toe te pas en met resep ontwikkelling ‘n nuwe produk te ontwikkel. ‘n Heerlike sagte brood en het ook gevind ten tye van my moeder se kanker behandeling dat dit die enigste iets was wat sy kon eet wat nie naar gemaak het en ook die sere in haar mond irriteer het. My kinders praat van hierdie as Veertjie brood.  Dit is naregte ‘n weergawe van ‘n verrreikte brood soos ‘n brioche…maar met ‘n Twist van sy eie by om die gluten te versag in die gebak.

Hierdie resep is vir net 1 broodjie. MAAR…die resep is so ontwikkel om perfek met 2 of 4 gemaal te word. Lees versigtig nou…die Pasta deel in stap 1 moenie vermeerder word. Dit is genoeg om 5 x se baksel uit te kry, vries dus dit in klein porsies. Onthou net die reel dat as gis vermeerder word jy 10 g kitsgis of brouersgis nodig het per 1 kg meel. As jy te veel gis gebruik en dink die deeg gaan vinniger rys, gaan jy ‘n fout maak, die deeg gaan as dit gaar is droog en hard wees. Onthou om brouers gis eers in water op te los met n knippie suiker voordat dit gebruik word. Kits gis kan direk gebruik word. 

Stap 1: pasta

Kook saam 40 g koekmeel met 200 g water. Roer met ‘n draad klitser totdat die mengsel verdik het en mooi egalig is. Verwyder van hitte en skep in koue piering uit en krap oop. Druk ‘n stukkie geoliede bakpapier bo-op en laat afkoel.

Stap 2

580 g koekmeel

60 g wit suiker

5 ml sout

5 g kits gis of brouers gis

10 g melkpoeier

260 g melk vir digter tekstuur en water ipv melk as jy nie so swaar tekstuur wil hê

50 g pasta van stap 1, af gekoel (vries die res vir volgende keer)

50 g eier (1 eier)

50 g botter

Sif al die droë bestanddele saam. Meng die nat bestanddele saam en voeg dan by mekaar. Knie deeglik totdat die mengsel glad is vir ongeveer 5 minute.

Laat die deeg vir 30-90 minute bedek rus om te verdubbel in volume. Omdat hierdie ‘n verreikte brood is, gaan dit abnormaal langer as gewone brood neem om te verdubbel in volume…dus die 30 minute mag dalk in koeler temperature 60 minute word.

Verdeel die deeg in 6 ewe groot bolletjies.

Neem een bolletjie per keer en rol die bolletjie effens plat in ‘n reghoek. Vou die deeg in derdes oor mekaar en draai die lang kant sodat jy dit dan weer in derdes kan vou om ‘n stywe bolletjie te vorm. Plaas die bolletjie met naat na onder in ‘n gesmeerde pan en hou so aan met die res van die deeg totdat die pan gevul is. Laat die bolletjies weer verdubbel in volume. Voorverhit oond na 180C en smeer 1 x 20 cm x 10 cm x 10 cm diep broodpannetjie.

Bak by 180 C vir 35 minute. Onthou om ‘n bietjie stoom vooraf in die oond in te bring deur ‘n bietjie fyn water sproei teen die kante van jou oond te spuit. Hierdie sal help dat die brood mooi hoog en egalig rys.

Sodra die brood klaar gebak het, spuit ‘n bietjie melk op die broodjies, keer die broodjies uit en bedek met ‘n lappie om sag te word.

Hierdie brood vries baie goed nadat dit gebak is. Om te ontdooi haal uit vrieskas by kamer temperatuur vir ‘n uur en bak dan weer vir 10 min by 180C as jy warm bolletjies wil voorsit.

Bron: Annelien Pienaar, 1997, www.annelienpienaar.co.za

Hoeveelheid: 6 bolletjies of een groot brood wat pas in ‘n broodpan van 20 cm x 10 cm x 10 cm hoog.