Hierdie versiersel neem ongeveer 10 minute om te maak en smelt glad nie in warm weer. Verder word hierdie mengsel gekook en dan styf geklits agv die teenwoordigheid van eierwit. Om die versiersel dan te spuit is ook maklik en vir seer hande meer hanteerbaar. Ek het onthou hoe my moeder altyd van seer hande begin kla het en sy het gereeld hierdie resep gemaak. Soms het sy so ‘n paar wit malvalekkers bygevoeg sodat die rose wat sy gespuit het ekstra “fluffy” en romerig was.

2 eierwitte van ‘n Jumbo eier by kamertemperatuur
300 g wit suiker
85 g water (onthou dat water in gram en ml dieselfde is, maar vir sukses van hierdie resep is weeg baie belangrik)
30 ml glucose stroop (verkrygbaar by enige bakkers winkel asook apteke en super market)
5 ml geursel van keuse (maak seker dit is ‘n waterbasis geursel) Olie basis sal die eierwit laat pap word. Toets deur ‘n druppel op papier te drup en jy sal dadelik ‘n oliekol en ‘n water kol kan identifiseer. Onthou dat olie ‘n deursigtige merk laat.

Kook solank ‘n kastrol met net genoeg water vir ‘n dubbelkoker. Onthou ‘n dubbelkoker is wanneer jy twee kastrolle of ‘n bak oor ‘n kastrol gevul met genoeg water kook. Die water mag nie dodem van die boonste kastrol of bak raak nie.

Meng die eier witte, suiker, water en glucose stroop in ‘n bak wat as ‘n dubbelkoker gebruik kan word. Klits die bestanddele liggies en plaas dan die bak oor die kokende warm water. Hou aan klits met ‘n elektriese klitser vir 3-4 minute of totdat die mengsel sy vorm begin hou. Per hand met ‘n draadklitser ongeveer 6-8 minute totdat die mengsel begin verdik.

Verwyder van die hitte en hou aan klits totdat die mengsel begin dik word en die punte stywer vertoon en vorm behou. Voeg ook hier dan ongeveer 10 wit malva lekkers by en klits tot styf.

Laat afkoel en spuit of smeer na gelang. Hierdie spierwit versiersel kleur pragtig in die perfekte kleure.

Bron: Annelien Pienaar, 2019, Basiese koekversiering klas, www.annelienpienaar.co.za