Die geure van my ma se vars brode kom op as ek hierde brood bak. My kinders kom uit die kamers asof aroma’s onsigbare vingers het om hul aan die neus rond te lei! Die resep is maklik en moeite vry.

10 g kits gis
4 e heuning
250 ml kraan water
250 ml melk wat gekook word met 4 e botter en dan afgekoel na kamer temperatuur
840 g (6 k) koekmeel
1 t sout
60 g (4 e) botter
150 g (3/4 k) witsuiker
1 k rosyne

Meng die kits gis met die water en heuning en laat staan vir 5 minute. Voeg die afgekoelde melk by en roer goed deur. Voeg 2 k meel by en meng totdat al die klonte uit is. Laat dan rus totdat die mengsel skuim vir ongeveer 30 minute.

Voeg die res van die bestanddele saam en knie by die aktiewe gismengsel. Knie goed vir 5 minute en rus vir 15 minute en knie weer. Los dan om te verdubbel in volume of 60 minute.

Vorm die deeg in twee brode: om ‘n lang brood te vorm. Druk die deeg in ‘n reghoek en die breedte van jou pan. Rol dan styf op en vou die oop kante effe in. Plaas in pan.

Wenk: Hoe weet jy of jou pan genoeg deeg in het om mooi vol te rys een ‘n boepens broodjie te kry? Neem die pan waarin jy wil bak. Plaas dit op ‘n skaal en maak die skaal zero. Giet water in die pan sodat dit tot op die halfpad merk kom. Wat is jou lesing? Daardie lesing wat jy kry is die gewig van wat jou bol deeg moet wees om ‘n mooi uit gerysde broodjie te kry. Omdat jy met gis werk sal die deeg trippel sy volume rys. Eers verdubbel dit in volume met die rys in die pan en dan rys dit met nog ‘n derde as dit bak. Hoop hierdie relaas maak sin.

Sodra die deeg die pan vol gerys het tot bo, plaas in voorverhitte oond van 180C en bak vir 30-35 minute tot bruin en gaar.

Smeer die brood as dit warm uit die oond kom met 1 eierwit wat geklits word met 4 e water…dit sal ‘n mooi glans gee.

Glans versiersel
125 g versiersuiker
75 ml water
15 mlvsuurlemoensap

Meng by mekaar en roer. As jy sien die mengsel is te dik, voeg lepel vir lepel ekstra water by. Giet die mengsel dadelik anders vorm dit ‘n harde kristalle.

Bron: Annelien Pienaar, 2018, Gis gebak klas