Viskoekies

Viskoekies

Hierdie veelsydige reseppie kan met enige vis vervang word. Ek het onlangs Pilchards gebruik in die plek van die gewone vis. Dreineer net die stukke baie goed en hou die sousie om later oor die gaar viskoekies te bedien. Ek sit die viskoekies vir die kinders in hul kosblikke, bedien dit as ‘n ligte middagete of as ‘n vinger happie vir die manne as hulle maters kom kuier. Vries ook baie goed en kan reeds vooraf berei word.

450 g Vis filette – gaar gestoom of in 500 ml melk posjeer
500 g Gaar aartappels – geskil en fyn gedruk
1t Dill tippies of tiemie, gedroog
1/4 t Neutmuskaat (nutmeg)
1/2 t Vars fyn gedrukte knoffel
Sout en peper na smaak
500 ml Brood krummels
2 Eiers geklits
500 ml Koekmeel
Olie vir vlakvet braai

Posjeer die filette in melk tot gaar. Posjeer beteken: plaas vis in kokende melk en maak met matige hitte gaar sonder deksel. Dit voorkom dat die vis taai en droog word. Dit neem ongeveer 10 minute op die langste om gaar te word. Dreineer die vloeistof en maak die vis fyn.

Kook dan die aartappels in lig gesoute water met skil tot sag. Trek skilletjie af en druk fyn sonder enige botter of melk. Meng met die vis en sout en peper na smaak. Dill is nogal ‘n heerlike krui om saam met kappok aartappels en vis te gebruik asook bietjie neutmuskaat.

Laat die effens koel en maak ongeveer 50 g -100 g balletjies. Plaas die balletjies op ‘n bakplaat en druk plat. Om perfek ronde viskoekies te kry kan jy ‘n muffin pan met kleefplastiek uitvoer en die mengsel daarin druk en met agterkant van lepel plat druk. Of jy kan ‘n ronde koekie drukker vul en ook so plat druk met agterkant van lepel of ‘n patty maker sal perfek werk.

Plaas in vrieskas en vries tot hard. Sodra die viskoekies hard is: bedek eers met eier en doop dan in koekmeel en druk die meel goed vas. Maak al die koekies eers klaar met die meel bedekking. Daarna weer terug in die eier en dan in die broodkrummels en druk vas. Nou kan jy dadelik die viskoekies in die oond bak teen 180C vir 30 minute of vlakvet braai vir 15 minute oor matige hitte.

Wenk: Die ongebakte, klaar bedekte viskoekies vries soos ‘n droom.

Bedienings voorstel: p.24 in Boerekos met ‘’n Twist kookboek, is Ouma Hantie se ongelooflike Knoffelroom sous.

Bron: Annelien Pienaar, 2018

2018-09-19T07:40:06+00:001 Comment

One Comment

  1. Hildagard October 3, 2018 at 12:42 pm - Reply

    This recepy sounds very good and will defitily make is, thanks for sharing, have a wonderfuk day,

    Regards

    hildagard du Plessis

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.