(www.annelienpienaar.co.za)

Wanneer daar ‘n oormaat Roomkaas oor is na aanleiding van een van my suiwel klasse by die BKT ateljee…maak ons dan heerlike planne met die oorskot.

Hierdie resep is vinnig en maklik om te maak…nie eens ‘n elektriese klitser vir die werk nodig nie. Basies is dit filodeeg rolletjies wat gevul word met ‘n kaaskoek vulsel en dan in ‘n spiraal gedraai word. Gebak en dan met heuning en pekans afgerond. Kom ons begin.

1 pak 500g filodeeg
800 g roomkaas
300 g versiersuiker
2 eiers, ekstra groot
2 t vanielje geursel
1 e suurlemoensap
1 t suurlemoenskil vars gerasper
150 ml gesmelte botter
5 ml voedsel kleursel indien verkies vir mooi effek (opsioneel)
kwassie

200 ml heuning
200 g pekans, gekap
Voorverhit oond na 190C en smeer twee 25 cm koekpanne met los bodems.

Meng al die bestanddele saam deur met ‘n draadklitser goed deur te meng. Plaas die beslag in ‘n spuitsak wat met ‘n ronde spuitpunt toegerus is. Ongeveer 2 cm deursnit.

Neem een vel filo op ‘n keer en smeer eers met botter, spuit dan ‘n lang repie verkoelde vulsel oor die langste deel van die filo en rol dan versigtig in ‘n sigaar op. Begin in die middel van die pan en draai dan die lang reep in ‘n spiraal. Hou aan totdat die pan gevul is. Herhaal met tweede pan. Smeer weer botter oor die oppervlakte.

Bak die terte vir ongeveer 30 minute waarvan die laaste 5 min dop hou sodat die deeg nie te bruin word. Haal uit en bedruip elke tert met 100 ml gesmelte loperige heuning en 100g gekapte neute van keuse.

Versier met vars bessies.

Bron: Annelien Pienaar, 2018