Die kombinasie van die jogurt se suur met wit sjokolade is en bly seker een van my gunsteling kombinasies. Hierdie doopsous kan vir ‘n verskeidenheid koekies en vele meer gebruik word. Die geheim kom in by die smelt van die sjokolade en die verhouding van yoghurt tot die res van die bestanddele. Onthou, omdat jy met wit werk kan die sjokolade met gewone voedselkleursel in ‘n verskeidenheid kleure gemaak word. Onlangs hierdie mengsel oor doughnuts en wafels gebruik vir ‘n piekniek…wel die res is geskiedenis!

200 g (1 k) egte wit sjokolade splinters, (ek verkies die couveture soort soos Callebaut)
125 ml gewone jogurt, jy kan gegeur gebruik maar dit moet die gladde soort wees, sonder vrugte anders gaan die mengsel klonte maak en skif
650 g (5 k) versiersuiker

Smelt die sjokolade oor ‘n dubbelkoker waarvan die bak waarin jy die sjokolade smelt nie die water raak nie. Die water in die onderste kastrol moet saggies prut. Gebruik verkieslik ‘n glasbak. Indien jy waaghalsig is (ek besit nie ‘n mikrogolf) kan jy die mikro gebruik. Dit is egter ‘n kwessie van 5 draaie en stop, roer en draai tot gesmelt. Jy mag nie jou rug op daardie bak draai nie.

Meng tussend deur die jogurt met die versiersuiker. Dan, met ‘n draadkliter (whisk) klop jy so vinnig as wat jy kan die sjokolade by tot glad. Doop dan die koekies en laat dan eenkant om te set.

Onthou, hierdie mengsel gaan vinnig kristalle vorm op die oppervlakte. Indien jy dit wil bêre om weer te gebruik stel ek voor om dit in ‘n zip lock sakkie te plaas, al die lug uit te vryf sodat dit plat lê met geen borrels. So sal jy die kristalle kan keer.

Ek moet bieg, soms gebruik ons hierdie sous vir wafels, malvalekker braai en vele meer as die bevlieging vir iets soet sy nek uitsteek. Moet natuurlik ook nie die 100’s en 1000’s vergeet nie! Hierdie resep: Chock chip cookies is heerlik met die sousie oor en dan ‘n mooi glanslaag vir sponskoeke!

Geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2015, Kinder kookklas