Eierlose Semelkarringmelk beskuit en Kersie Biscotti, Episode 7 van Boerekos met ‘n Twist

Eierlose Semelkarringmelk beskuit en Kersie Biscotti, Episode 7 van Boerekos met ‘n Twist

Eierlose Semelkarringmelk beskuit

Semelkarringmelk beskuit is sag, bros en amper so lekker soos koekies. Dit is vol gesonde aspekte en die hele gesin se kolon kan daarby baat. Hierdie resep bevat GEEN eiers omdat ek dit so ontwikkel het vir eier allergië.

1. Hierdie beskuit is soos smelt in die mond koekies…murg sag agv die margarien wat met die hande ingevryf word.
2. Ek is oor 2 dinge vol fiemies…my meel en my margarien vir bak…hier is my geheim…Snowflake en Rama of Stork bake. Hoop een van die maatskappye gee my eendag werk!
3. Sny altyd jou beskuit voordat jy dit bak in vingers, na die tyd gaan dit baie help met die droog proses. Ek gebruik groot plat beskuit panne.
4. Wanneer jy beskuit droog moet die oond deur met ‘n houtlepel oop gehou word sodat die vog kan ontsnap.
5. Hoe word beskuit gedroog? Elke vinger kan direk op die draadrakkies van die oond gepak word. Ek sit vooraf foelie onder in die oond sodat al die krummels daarop kan val en later makliker verwyder word.
6. Ek is baie life om Roulynsaad in my resepte te gebruik omdat dit hoog in omega’s is…veral as die kinders nie so lief is vir vis.

7 k (1 kg) Nuttywheat (vir die oorsese gebruikers, soek vir ‘n Whole wheat meel wat baie grof en semelryk is)
2 k (60 g) semels
1 k (100 g) pekans/rosyne/cranberries of 3dele van elk
1 k (170 g) roulynsaad
1 k (80 g)gerolde hawermout (Rolled oats)
2 k (400 g) sagte bruinsuiker
1 t (5 ml) sout
2 t (10 ml) bakpoeier
1 t (5 ml) kremetart
2 t (10 ml) koeksoda
100 ml melk
500 g margarien, kamer temperatuur
2 k (500 ml) karringmelk

Hou koeksoda eenkant en meng die droë bestanddele saam. Rasper margarien in meel in en vryf met vingerpunte in totdat dit soos broodkrummels lyk.
Meng die koeksoda met melk, maak seker die klonte is goed opgelos. Voeg by karringmelk om dit te aktiveer.
Meng meelmengsel met melkmengsel totdat bestanddele goed gemeng is. Druk die beskuit in plat oond panne en sny vooraf in vingers. 2 oondpanne is reg.
Bak by 180 grade C vir 45-60min op die oond se middelste rak. Laat afkoel en sny in vingers en droog in matige oond van 100 grade vir 3-4 ure met effens oop oond deur.
Biscotti
Boerekos met ‘n Twist die kookboek die oorpronklike resep
Lewer 50 vingers

Kersie Biscotti

Een van die wonderlikste happies wat ’n mens vir gaste kan voorsit saam met koffie, of as geskenkie kan gee, is biscotti. Ek sit die biscotti voor met ’n sjokoladesous wat gewoonlik saam met wafels geëet word. Die biscotti is neutagtig en die koffie en kaneel wat deurkom, komplementeer die sjokoladesous goed. Daar is altyd biscotti in my spens vir nagereg, teetyd en bederfpakkies. Vir variasie kan die pekanneute met sjokoladesplinters, gemengde droëvrugte of rosyne vervang word.

350 g (2½ k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
knippie sout
75 g (5 e) botter
150 g (¾ k) strooisuiker
100 g (1 k) pekanneute
100 g (1 k) glanskersies, halveer
2 groot eiers
30 ml (2 e) melk
5 ml (1 t) kaneel
15 ml (1 e) koffiepoeier, opgelos in 15 ml (1 e) kookwater
5 ml (1 t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 180 ºC en smeer ’n bakplaat met Koekpansmeer (bl. xx).

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte by die meelmengsel in. Voeg die suiker, neuter, glanskersies by en meng deeglik.

Meng die eiers, melk, kaneel, koffie en vanieljegeursel en die melk en voeg dit by die meelmengsel; knie baie liggies. Verdeel die deeg in drie dele en rol dit in worse van ongeveer 25 cm lank en 7 cm dik. Druk effens plat, spasieer die worse só dat die deeg nie aan mekaar raak wanneer dit tydens die bakproses uitsit nie. Bak vir 25 minute.

Laat afkoel en sny in skuins skywe van 2 cm dik; droog die biscotti vir 2 uur uit by 100 ºC.

Bron Annelien Pienaar, Episode 7 van Boerekos met n Twsit, 2018

2018-05-22T12:15:29+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Marianna Froehlich June 14, 2018 at 6:49 am - Reply

    Hallo Annelien..jou gehoor op Radio Pretoria..met ons onlangse vakansie aan die Suidkus jou resepteboek gekoop..ek is een van daai mense wat ñ resepteboek kan deurlees ~ én nog ñ keer ~soos ñ storieboek..het die vleisbolletjies met sous gemaak uit die boek..njam(skuus kan nie nou dink aan ñ ander woord)..mag jy net Geseënd wees in wat jy doen..
    Groete
    Marianna Froehlich

    • Annelien June 15, 2018 at 9:24 am - Reply

      Hallo Mrianna,

      DAnkie vir die positiewe briefie en mag jy sommer heerlik Twist. Sluit asb ook aan my my Faceboek kosgroep: Boerekos met ‘n Twsit waar ons elke dag saam leer en aktuele kook aangeleenthede hanteer. BKT groete Annelien

Leave A Comment