
Photo by: Annelien Pienaar Food Consultant (www.annelienpienaar.co.za)
Karameljellie laag met ‘n broskorsie van gekapte, geroosterde pekanneute is nooit te versmaai in die Pienaarhuishouding. Binne ‘n kits het die Filistyne die bak sy bodem laat sien.
Kors
140 g koekmeel
115 g botter
knippie sout
4-5 e water
Plaas in voedselverwerker al die bestanddele behalwe water. Draai lem totdat die botter egalig ingewerk is. Voeg die water by en draai die lem weer totdat die mengsel deur gewerk is. Haal die deeg uit en druk liggies aanmekaar. Rus 30 minute.
Smeer ‘n glas of keramiek pasteibak en rol die deeg 3 mm dik uit en voer ‘n 20 cm tertbak uit. Laat die deeg in die kante van die pasteibak in sak, moenie indruk nie. Sny met ‘n afwaartse beweging die oortollige deeg van die rant af.
Hou in yskas totdat vulsel gereed is.
Vulsel
250 ml goue stroop
1/2 k sagte bruinsuiker in die koppie ingedruk (treacle sugar)
1/4 t sout
5 ml vanielje geursel
15 ml suurlemoensap
2 e mielieblom met 50 ml water aangemaak
1 1/2 k pekans, grof gekap
3 eiers
Styf geklopte room vir versiering
Meng al die bestanddele saam en skep in tertkors. Bak vir 60 minute by 170 C tot gestol.
Laat baie goed afkoel en plaas in yskas om volledig te set.
Bedien met skeppies room.
Hierdie tert vries goed en verdubbel perfek. Die kors moenie verdubbel word nie, dit is genoeg om ‘n dubbele vulsel te hanteer.
Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 1 x 20 cm tert foilbak grootte as ek ‘n aanduiding so kan gee.
Annelien, ek wil die tert bak op kort kennisgewing. Goue stroop altyd n struikelblok. Kan ek met maple of silan (dadel stroop) of heuning, of kombinasie van die drie gebruik ipv goue stroop, asseblief?🙏🏻🌸
Sonja, jy kan verseker meng. Onthou ook die Goue stroop resep hier op die webtuiste wat jy self kan kook. My oorsese lesers vind die resep maklik en ook baie handig. Groete daar in Israel..Annelien
Hi Annelien, ek wil graag weet of ek die neute met cashew neute kan vervang of moet ek ander veranderinge ook aanbring in die resep?
Beste Maria,
Jy kan met enige neut vervang sonder kommer om enige aanpassing te doen tov die res van die bestanddele.
Groete Annelien
Baie dankie.