Beginsel
Die gemmerstukke word eers baie sag gekook dmv ‘n stoompot, of as jy nie so iets het sal ‘n slowcooker ook werk, 12-24 uur ten minste in die slowcooker. Hierdie proses neem nogal tyd. Met die stoompot moet die proses tot 4 keer gedoen word of totdat ‘n vuurhoutjie maklik deur die gemmerstuk steek.

Daarna word die gemmer gekook en dan gelos in stroop vir ‘n periode van 4-6 dae….sodat die stukke letterlik die stroop kan indrink en ook helder en deurskynend word. Dit is gewens om liefs jong wortels te gebruik dan is die vesels nog nie so hard nie. Dus as jy geduld het is hierdie ‘n treffer. Spesialiteits winkels sal vuis slaan vir hierdie lekkerny. Wintertyd is wanneer gemmer wortels geoes word en op hul sagste is.

Verder kan julle met dieselfde beginsel versuikerde gemmerstukke maak. Dis net die laaste dag wat dinge anders verloop, ek sal dit in die wenke aan die einde van die metode aanheg.  Dit is ook belangrik om ingedagte te hou….hoe kleiner die kooksel wat jy maak hoe gouer verdamp die vog. Dus beveel ek aan dat julle nie minder as 1 kg wortels op ‘n keer kook…anders maak julle gemmer toffie…. Die kastrol wat julle gebruik moet liefs nie te ‘n groot bodem hê…verkieslik iets soos ‘n ou stoompot se kastrol.

45ml Koeksoda
5 liter Water, vir koeksoda, water word later weg gegooi
1kg Gemmer stukke
1kg Suiker
1.5 liter Water, stroop maak
2ml Kremetart

1. Skil, prik, sny in stukke of skywe of laat heel bly. Die rede vir die prik is om die vesels sag te maak sodat dit maksimaal die stroop kan absorbeer. Baie belangrik dat dit BAIE goed gedoen word en dat die prikkies deur die stukke gaan.

2. Maak die gemmer bros deur dit oornag in die koeksoda water te laat lê. Spoel die volgende dag goed af en laat in skoon water rus vir 2 ure om uit te vars.

3. Kook die gemmer sag in stoompot vir 4-6 keer of totdat jy ‘n vuurhoutjie se agterkant met gemak deur die vleis kan druk. Moenie die water waarin die gemmer gekook word weg gooi nie…al die geur sit daar en word aan gevul met gewone water tot die regte maat verkry word vir die kookproses. Syg deur kaasdoek om stukkies te verwyder.

4. Voeg die gemmerwater, suiker en kremetart by mekaar en laat stadig oplos by lae hitte. Stroop mag nie kook voordat al die suiker nie opgelos het nie. Onthou om die kante van die kastrol met ‘n kwassie af te was om kristal vorming te voorkom. Laat die stroop 5 min kook sodra die suiker opgelos is.

5. Sit die gemmer bietjies vir bietjies by die kokende stroop. Die stroop moet die heeltyd bly kook terwyl jy die gemmer byvoeg. Kook die vrugte vir 30min by baie vinnig en laat 24uur in stroop staan.

6. Verwyder gemmerstukke en verhit stroop tot kookpunt. Voeg weer die stukke bietjies vir bietjies by terwyl die stroop bly kook. Kook vir 30 min matig vinnig. Laat weer 24h staan en herhaal die proses tot 6 keer of totdat die gemmerwortels deurskynend raak. Indien die stroop te min raak, maar weer stroop aan en vul aan soos jy kook.

7. As ek nie versuikerde gemmerstukke gaan maak nie, dan bottel ek die stukke in die oorblywende stroop, verkieslik warm.

Hoe om versuikerde gemmer te maak:
1. Nadat jy die bg. stappe gevolg het, laat die gemmer op ‘n draadrak droog word totdat die oppervlak net effens klewerig voel. Die oppervlak moet net klam genoeg wees dat die suiker kan vassit en nie so nat dat dit sal oplos nie.

2. Rol die gemmer stukke in suiker sodat dit eweredig met die suiker bedek is. Ek laat dit ‘n dag staan om verder te droog en verpak dit dan in glas botteltjies

Bron: Annelien Pienaar, 2014