As student het ek seker honderde kere hierdie vinnige nagereg gemaak…As jong student was kondensmelk nie so duur gewees nie en ‘n goedkoop opsie om jou vriendinne en hul kêrels te trakteer. Een van ons vriende het die nagereg gedoop: “Annelien se moerby paai”. Dit is tot vandag nog iets wat hy maak vir sy vrou…en ja 24 jaar later nog gelukkig getroud met my mooie vriendin. My kinders maak hierdie ook in deursigtige koppietjies en verkoop sommer baie wanneer dit Markdag by die skool is. Kom ons spring aan die werk.
125 ml (1/2 k) vlapoeier
100 g (1/2 k) witsuiker, jy kan minder gebruik indien verkies
1 liter (4 k) melk
2 e botter
1 t vanielje geursel
2 blikkies kondensmelk (379g)
180-200 ml vars lemmetjie sap (gebottel sal ook werk, maar nie so ferm set gee)
150 g gemmerkoekies fyn gemaak
Plaas melk in mikrogolf veilige bak. Verhit die melk net tot lou warm in mikrogolf vir 1 minuut. Voeg die vlapoeier en suiker by en roer goed deur met draadklitser. Vir die volgende 8 minute elke minuut…stop, roer, stop roer totdat die mengsel begin op kook.
Voeg die botter en vanielje by en roer goed deur. Druk ‘n stukkie kleef plastiek direk op die vla om ‘n velletjie te voorkom. Hou eenkant.
Berei die kondensmelk voor deur die suurlemoensap by te voeg en goed te meng. Hier kan jy besluit om dan een groot tert te maak of individuele porsies. Vir ‘n groot tert kan ‘n langwerpige pyrex bak geskik wees of kelkies ongeveer 8.
Skep dan eers ‘n lagie koekiekrummels dan vla, dan kondensmelk en weer koekies. Hou so aan totdat al die bestanddele gebruik is. Plaas vir 2 ure in yskas en bedien met ekstra krummels en room.
Bron: Annelien Pienaar, 2015
Hoeveelheid: 6-8 porsies