Die Camembert van Melkterte

Die Camembert van Melkterte

Hierdie unieke Melktert bak met sy eie korsie, gevul met ‘n dekadente crème caramel vulsel, afgerond met ‘n randjie wat jou vertel hierdie is ‘n melktert met inbors, is enig in sy soort. Ek wil my verstout en sê dat hierdie melktert die Camembert van Melkterte is.

Melktert is so sinoniem met die Afrikaner volkie van my. Ek dink ek sal sommer elke week Melktertdag vier as ek kon. Vir manlief se 50ste verjaardag het ek besluit om hom te bederf met ‘n unieke melktert. Groot was my verbasing toe my eksperiment 100% slaag en nie nog skaafwerk nodig gehad het. Kom ons begin!

4 Jumbo eiers, geskei
¼ t kremetart om eierwitte mee styf te klits
200 g wit suiker
125 g botter (moet botter wees, gesout is reg)
70 g koekmeel, gesif
50 g mielieblom, gesif (maizena)
knippie sout
400 ml volroom melk
100 ml room of (as variasie het ek klapper room gebruik en ‘n ongelooflike smaak gekry!)

Voorverhit oond na 150 ℃. Smeer ‘n ronde koekpan van 25 cm deursnit met koekpansmeer uit en plaas eenkant. Kry ‘n oondpan waarin die koekpan gemaklik sal pas.

Smelt botter en hou eenkant om aft e koel. Verhit melk en room in mikrogolf vir 2 minute en laat afkoel.

Klits eiergele en suiker saam vir 3 minute en klits in ‘n dunstraaltjie die botter by.

Sif die koekmeel, mielieblom en sout saam en meng goed met die eiermengsel en voeg die melk by en vou in.

Klits die eierwit met kremetart tot stywe punt stadium, vou in beslag. Jy sal sien die beslag is nou baie loperig en die eierwitte is half skuimend bo-op en wil nie mooi inmeng nie, asof dit weer opstyg na bo. Dit is juis hier wat jy nie moet kommer en te veel moet meng nie. As die streperigheid verdwyn, giet dan in gesmeerde pan.

Die pan gaan tot bo vol wees. Moenie kommer dit sal nie oorkook nie.

Kook ‘n ketel met water en giet die kokende water in die oondpan. Plaas die koekpan met beslag in die oondpan en bak dan vir 1h – 1 1/2h minute by 150 ℃.

Sodra die koek gaar is, verwyder uit die waterbad en laat goed afkoel by kamertemperatuur. Plaas dan in koekpan in yskas oornag of vir 4 ure om ferm te word en te set.

Plaas die koekbord bo-op die pan en keer die tert uit. Versier met kaneel en geniet.

Bron: Annelien Pienaar, 2018

Hoeveelheid: 12 snye

2018-03-04T06:56:19+00:00 0 Comments

Leave A Comment