Songedroogde tamaties is een van die maklikste preserverings metodes om toe te pas en jy het beheer oor die feit dat GEEN preserveermiddels gebruik is. Daar is die opsie om die gedroogde tamaties in olyfolie te stoor of om dit gedroog in die vrieskas te plaas vir jare. Hoe dit ook al is, vir my ‘n baie handige item om in die spens te hê omdat die tamatie gegeurde olie heerlik is saam met slaaie, oor pizza’s en platbrode en ook met marinades. Klein, vleisige tamties werk perfek met hierdie resep. Jy kan ook kies hoe die tamatie gesny word, kruis of dwars. Maak net seker om nie te haastig te wees en die oond warmer te wil draai, jy gaan die tamatie gaar maak…nie droog as jy dit doen. Onthou dat oond gedroogde tamaties maklik kan brand en moet teen 70C droog. As dit in die son gedroog word kan dit in die koelte geskied onder nette toe gemaak vir so 3 dae in die somer en 7 tot 10 dae in die winter. Onthou om dit elke dag in te brind sodat die dou dit nie weer klam maak.

1 kg Roma, Romatica of Kersie tamaties
2 e balsamiese asyn
2 e olyfolie
2 e suurlemoensap
1 e dill tippies
½ t chillie vlokkies
1 t sout
1 liter olyf olie om botteltjies aan te vul
¼ t gedroogde knoffel in elke botteltjie
1 roosmaryn takkie per botteltjie

Sny die tamaties in die lengte deur en druk die sap en pitte uit…jy kan dit ook uitskep met ‘n lepel indien verkies. Maak ‘n ligte snytie op die rug kant van elke tamatie om vog vinniger te laat ontsnap.

Sprinkel bestanddele oor die tamaties en skud die bak sodat die tamaties bedek word met bestanddele.

Plaas die tamaties op ‘n stukkie bakpapier of silikoon vel en droog by 100 ℃ vir 3-6 ure met die oond deur op ‘n skrefie oop gehou met houtlepel. Die tamaties moet vleserig en taai soos leer wees. Nie bros en krakerig. Laat die tamaties goed afkoel en pak dan in gesteriliseerde flesse en vul aan met olyfolie, knoffel en roosmaryn. Draai dig toe en stoor vir 6 maande in die yskas. Of gedroogde tamaties kan in sakkies in die vrieskas gestoor word vir jare. Onthou olyfolie raak solied in die yskas, moenie skrik nie…dit sal weer loperig word by kamertemperatuur.

Bron: Annelien Pienaar, 2017
Hoeveelheid: 2 x 375ml glasbotteltjies