
Soos die naam aandui is Suurlemoen Vlatert juis dit…’n vlabasis afgerond met ‘n meringue laag. Die verskil tussen ‘n Suid-Afrikaanse Suurlemoen meringue tert en ‘n Suurlemoen vlatert is tweeledig. Die vulsels en die meringue tipe verskil drasties. Die Suurlemoen vlatert is nie so stroop soet soos sy mater wat met kondensmelk gemaak word. ‘n Basiese Italiaanse Meringue word gemaak en met ‘n gasvlammetjie of rooster element verbruin vir die Suurlemoen vlatert. Onthou jy kan meeste van jou resepte wat ‘n meringue basis nodig het vervang met die Italiaanse meringue resep. Hierdie tipe meringue sal glad nie plat val of water druppels trek nie. Die massa behou sy vorm. Lees asb deeglik deur die resep om al die kopkrappers vooraf kaf te draf.
Tert kors
150 g botter of bakkersmargarien
Knippie sout
115 g versiersuiker
1 groot eier, kamertemperatuur
2.5 ml vanielje geursel
250 g koekmeel
2.5 ml bakpoeier
Suiker of olie termometer
Plaas sal die bestanddele in voedselverwerker of in menger en meng tot een groot vol vorm. Haal uit, druk plat en verkoel vir 30 min.
Voor verhit oond 180 ℃ en berei Flan panne voor, verkieslik los bodems. Gebruik Koekpansmeer op p. 12 in Boerekos met ‘n Twist die kookboek.
Rol die deeg 5 mm dik uit op meel bestrooide oppervlakte. Voer pan uit met deeg, prik die basis en bak blind deur ‘n lagie bakpapier bo-op die deeg te plaas gevul met bone of rys. Bak vir eerste 10 min blind. Haal sade af en bak verder tot hard en bruin vir nog 5 min.
Laat afkoel voor gebruik. Haal die kors uit die vorm en plaas eenkant.
Wenk: Hierdie deeg kan gevries word gebak of ongebak vir 6 maande.
Suurlemoen vlavulsel
60 ml suurlemoen zest (skil fyn gerasper)
100 ml suurlemoensap
150 g witsuiker (wenk: kondensmelk kan in die plek van die witsuiker gebruik word)
3 groot eiers, kamertemperatuur
15 ml gelatien poeier, gespons oor 90 ml kookwater, roer tot opgelos en soos heuning lyk, plaas eenkant (wenk: die gelatien sal voorkom dat die meringue en vulsel stroop trek)
150 g botter, kamer temperatuur
1 e mielieblom
Klits die zest, suurlemoensap, suiker en eiers saam en giet in kleef vrye kastrol en oor matige hitte bly roer totdat die mengsel verdik het.
Verwyder van hitte en klits die botter by tot een egalige mengsel. Voeg die gelatien stropie by en skraap die bakkie deeglik skoon. Meng goed deur en skep in tert kors.
Sprinkel die vulsel met mielieblom.
Italiaanse Meringue
Weeg groot asb die eierwitte want dit is die maak of breek van hierdie meringue om stabile te wees.
90 g eierwitte, kamertemperatuur is krities
3 knippies kremetart
150 g witsuiker (1 ½ k)
65 ml water
2.5 ml vanielje geursel
Plaas die water en suiker in ‘n kastrol en kook oor matige hitte met die deksel op vir 5 minute sodat kristalle kan oplos (dit is die lui manier), anders roer en was kante met kwassie af. Sodra die suiker opgelos het, haal deksel af en kook totdat die stroop 118℃ wys. Sodra die thermometer by 116 ℃ uit kom, begin met die eier se voorbereiding.
Klits versigtig die eier witte met die kremetart tot sagte punt stadium (nie styf of vlokkerig nie). Giet die stroop in ‘n baie dun straaltjie by die eierwitte terwyl daar die heeltyd met die menger op stadig geklits word. Sodra al die stroop bygevoeg is, verhoog die spoed en klits vir 5 minute. Draai die spoed weer af en klits die eierwit mengsel totdat dit afgekoel het tot ongeveer 30 ℃ of kamertemperatuur.
Skep of spuit die meringue op die vlabasis en bak onder die rooster element van die oond totdat dit begin verkleur…staan die heeltyd daar. Indien jy ‘n gasvlam het kan die gasvlam ingespan word om die meringue bruin te maak. Onthou, die eierwitte is reeds gaar en het nie nog ‘n baksessie in die oond nodig nie.
Wenk: Hierdie versiersel / Meringue kan gevries word. Plaas die mengsel in ‘n sakkie en druk al die lug uit. Vries vir 3 maande baie goed.
Geniet!
Bron: Annelien Pienaar, 2018, Valentines
Hoeveelheid: 1 x 22-25cm flan pan
Die meringue onthou ek van kindsdae af. Wragtig nie gedink mense is nog so fluks deesdae om dit nog te doen nie, alles is mos kits, maar die stroop maak al die verskil. Ek onthou ek moes klits en een van my susters moes die stralletjie stroop ingooi. Daar was nog een met stroop in ‘n dubbelkoker geklits ook gewees.
AS mens skou gehalte gebak vir koffie winkels moet bak is hierdie meringue die enigste wat nie ‘n tranetrekker is…geen water druppels of meringue wat plat gaan. Groete Annelien
Annelien het genoem van haar Lemon Curd Pie op die web. Kan iemand my asb help met die ‘link’ want ek kry dit gladnie
Hannatjie, ek het nog nie die Lemoncurd slices gelaai nie. Jy is so bietjie vinnig op my. Groete Annelien