Tuna, roomkaas en ‘n paar ander geheime bestanddele maak hierdie Tuna mousse onweerstaanbaar heerlik. My man is glad nie lief vir tuna nie en dit is alewig ‘n lang gesig as dit kom by tuna. Vandag hom laat koer oor hierdie mousse wat hy met ‘n glasie wyn en sout koekies geniet het. Ek het silikoon vorms gebruik met hierdie resep.
1 blikkie tuna stukke (nie fyn nie), in olie of water, dreineer goed
7 ml (1 ½ t) gelatien
25 ml kraan water
25 ml kook water
½ k mayonnaise
½ k room, styf geklop
330 g roomkaas
¼ k gekapte aghurkies
¼ k spriet uie, vars, gesnipper
1 e suurlemoensap
1 t vars suurlemoenskil
¼ t knoffel (opsioneel)
Geen ekstra sout…tuna is sout genoeg
Swart peper na smaak
Ekstra vir dekorasie: dill tippies, paprika
Berei ‘n vorm voor deur dit in ys water te sit. Plaas 25 ml water in ‘n klein glas bakkie en sprinkel die gelatien oor. Laat staan om te hidreer.
Klop die room tot styf (wees versigtig vir oor klits, want dan maak jy botter).
Meng die res van die bestanddele liggies saam sodat die tuna nie te fyn op breek.
Neem die gelatien mengsel en voeg 25 ml kookende water by en roer tot opgelos en vertoon soos stroop. Klits dan die gelatien by die tuna mengsel.
Vou die room liggies in die tuna mengsel en haal die vorm uit die water en skep dadelik die vulsel in. Maak mooi gelyk en plaas in vrieskas tot geset.
Vir hierdie resep het ek ‘n 12 gaatjie kolwyntjie pannetjie grootte mould gebruik. Ek het 5 vormpies uit gekry. Die set tyd was ongeveer 4 ure. Dit is glad nie ‘n probleem as die vormpies vries nie, want dit haal net baie makliker uit. Ek vries soms vir onbeplande dae met gaste.
Indien verkies kan die vormpies soos op die foto met verskillende blaartjies en speserye gekleur en verfraai word.
Bedien met vars brood, sout koekies, groente borde of as vulsel vir broodjies.
Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 5 kolwyntjie grootte