Vinnig net die oorsprong van die ystertjie noem. Dit is ‘n Kers tradisie in Skandenawiese lande om hierdie happies voor berei. Dit word dan met versiersuiker besprinkel as dit afgekoel het. Ek gaan bietjie verder en doop die rosette in koeksister stroop. Dit is egter nie enige stroop nie, ek gebruik my vriendin Cariema Isaacs se Koeksister stroop resep met naartjieskil. Ongelooflike tower geure. Jy kan ook Maple stroop gebruik en vele ander planne soos die Sjokolde of Karamel sous in Boerekos met ‘n Twist kookboek

Kopkrappers
1. Deeg wil nie klou aan die yster as dit gedoop word in die beslag: Jou yster was nie lank genoeg in die olie gewees om goed warm te word. Onthou die yster moet warm wees sodat die oomblik wat dit die beslag raak jy die tsst…geluid hoor, dan sal die deeg klou.
2. Sodra die warm yster gedoop word, tsst en borrel die yster, maar as ek dit oplig, bly die hopie half gaar deeg agter. Die yster is te warm…wag net ‘n telling of wat en doop weer.
3. Kan die gaar rosette gevries word? Ja dit kan
4. Kan ek die beslag verkoel vir latere gebruik? Ja dit kan.
5. Hoekom het sommige resepte bakpoeier in en ander nie? Die oorpsronklike Skandenawiese resepte gebruik nie bakpoeier en dit is ‘n netjiese blommetjie…as jy iets meer pofferig verkies, voeg vir hierdie doel dan soos onder aangedui, bakpoeier by.

Beslag
2 jumbo eiers
250 ml (1 k) melk
1 e (15 ml) gesmelte botter of sonneblom olie
15 ml (1 e) witsuiker
140 g (1 k) koekmeel, gesif
2.5 ml (½ t) bakpoeier (opsioneel, sien punt 4)
Knippie sout
750 ml kookolie van keuse vir die braai van rosette
Kastrol 20 cm deursnit
1 x stroop Koeksister stroop vir die doop van rosette (indien jy die stroperige weergawe wil maak) of
½ k versiersieker vir sprinkel

Klits al die bestanddele saam behalwe die kookolie. Laat die beslag vir 30 minute staan om te verdik. Hierna plaas dan in metaal bakkie en verkoel vir ‘n uur of oornag.

Gebruik bietjie bietjie beslag sodat dit koud bly. Ek neem ‘n plat sop bordjie wat perfek die grootte van die yster se blommetjie is. Giet dan net beslag soos nodig en res in die yskas. Jy word verseker van ‘n mooi eweredige vormpie en deeg klou ook goed.

Voorverhit olie en toets olie of dit gereed is deur ‘n teelepel van die beslag in die olie te drup. Die beslag gaan letterlik tot onder en dan binne ‘n sekonde weer op. Dan weet jy die olie is gereed.

Maak seker jy doop die yster nie te diep nie. Die kante moet bedek wees, nie bo-op die yster nie. Hoe gaan die gaar rosette kan afglip as dit vassit omdat daar ‘n nekkie is wat dit vashou?

Doop die yster nou in die warm olie vir 2 minute. Drup af in kastrol en op ‘n stukkie absorbeer papier. Druk dadelik in koue beslag en onthou van nekkie. Plaas direk in kastrol maar hou die rosette mooi vas dat dit nie onder rus en ook nie aan die kante van die kastrol raak nie. Die toestel moet in die lug hang. Na ‘n minuut sal die rosette los kom en haal dan die yster uit. In die begin sal die deeg met die eerste drie probeer slae dalk nie los kom en dan met ‘n mes los maak. Na die derde probeer sal jy sien die deeg as jy die yster oplig, glip af.

Braai tot ligbruin. Moenie te veel rosette op ‘n keer probeer bak nie. Die olie gaan te gou koud word en dan suig die rosette olie en dan is die eindproduk onsmaaklik.

Geniet!

Bron: Snackle yster resep aangepas vanaf boekie wat saam gekom het. Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 30 van 5 cm deursnit en so 10 floppies in die begin.
Waar om yster te koop: www.binuns.co.za tik in soek opsie: Snackle iron