Kaaskoek met ‘n Kinkel soos min. Dit lyk moeilik maar glo vir my, dit is so maklik…jy gaan lag. Wat ek die meeste geniet van hierdie heerlike bederf is die feit dat dit lank hou in die yskas, dit propvol vars bessies is en gesond is sonder enige preserveermiddels. Roomkaas is my eerste keuse en met dit saam ‘n goeie kwaliteit gelatien. Ek ondervind toenemend dat bakkerswinkels gelatien van ‘n laer gehalte verkoop. Ek koop die pakkies in die kettingwinkels wat duurder is maar absolute goeie resultate lewer en konstant is. Hoe weet jy wat is ‘n goeie kwaliteit gelatien en watter nie? Dit kom alles in by die smelt van die gelatien, die gelatien sal eers korrelrig en melkerig lyk, maar namate die gelatien oplos sal die vloeistof helder en deursigtig soos heuning word. Dan weet jy dit is die regte produk.

Hidrasie van gelatien: gelatien kan op paar maniere hanteer word.
1. Gelatien kan direk in kookwater opgelos word, maar dit mag nie kook nie, hou aan roer tot deursigtig.
2.Gelatien velle kan in koue water vir 15 min hidreer word en dan by kokende vloeistof gevoeg word, roer tot opgelos. Dreineer die vloeistof deur siffie as daar dalk stukkies kan wees.
3.Tradisionele manier: sprinkel gelatien oor water en laat staan om uit te sit, dit word amper soos rubber. Plaas dan hierdie bakkie in ‘n bakkie wat met kokende water gevul is en roer totdat dit soos stroop lyk en geen korrels sigbaar is.

Dosering van gelatien:
1 e (15ml) gelatien tot 3 velle gelatien op 500ml vloeistof

Jellie laag
Plaas ‘n pan van 30 cm x 20 xm in vrieskas om 10 min te vries
1 k kookwater
4 e strooisuiker
1 e gelatien
3 e konfyt of 1 t kleursel

Metode
1. Meng al die bestanddele saam en maak seker die gelatien het goed opgelos. Plaas tekstuur plaat onder in swaarboom pan en giet eerste lagie gelatien. Laat set sodat die tekstuurplaat kan vasklou…sonder om te dryf. Indien jy nie ‘n tekstuurplaat het nie, niks te kommer. Boer maak ‘n plan. Plaas net ‘n stukkie transpirant of harde platiek of selfs kleefplastiek binne. Ek hou nie van die kleef plastiek want jy sny dit stukkend as jy dit die grootte van jou pan sny en stukkies bly agter.
2. Sodra die mengsel geset het, voeg die res van die gelatien by en laat lagie dan goed set.

Vulsel
500 g Roomkaas
500 g Gegeurde yoghurt van keuse
40 ml Suurlemoensap
400 g Strooisuiker
60 ml Gelatien poeier
250 ml Kook water
500 ml Room, styf geklits
¼ konfyt van keuse

Metode:
Neem ‘n waterpyp as jy nie ‘n halfmaan pannetjie het wat in ‘n broodpannetjie sal pas. Klas 4 waterpype werk perfek. Neem maskeerband en maak die ente toe sodat dit nie die kleefplastiek wat jy daaroor span sal breek nie. Trek mooi en deeglik met twee lae oor. Plaas nou in die pannetjie. Broodpan met afmetings van 28cm x 10 cm. 10-15cm waterpyp.

1. Meng die roomkaas, yoghurt, suurlemoensap en suiker saam tot die mengsel mooi egalig is.

2. Sprinkel die gelatien poeier in die kookwater en roer totdat dit goed opgelos het. As dit nie oplos nie, plaas die bakkie weer in kookwater totdat die mengsel soos stroop lyk en geen spikkels wys nie. Laat die mengsel tot kamertemperatuur afkoel.

3. Klits die gelatien by die roomkaas mengsel in. Vou geklopte room in deur ‘n ballon klitser te gebruik om die takie maklik en vinnig af te rond. Vir marmer effek in kaaskoek: skep paar telepels donker bessie kontyt op die beslag en roer twee draaie in figuur 8 beweging en skep uit. As jy te veel roer trou die kleure.

4. Haal die gestolde tekstuur plaat uit en sny die jellie laag presies so breed en wyd soos die pyp. Lig uit en plaas net so met plastiek in die pyp.

5. Skep vulsel in vorm van ongeveer 20-25 cm deursnit en 10 cm diep. Laat oornag stol of minimum 4 ure voordat ontvorm. Versier met vars bessies.

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Geskenke uit jou koskas klas Des2017
Hoeveelheid: 12 porsies