
Jy kry die kool liefhebbers en dan die kool haters…ek is die liewe ene. My Filistyne het aanvanklik maar swaar aan kool geëet. Manlief se moeder was die dierbaarheid vanself, maar het die kool net opgekook en sout en peper oorgesit. Dit is die idee wat my man van kool gehad het. My pa is ‘n kranige kok en het ons weer leer heerlik eet aankool. Dus, was dit nie vir my snaaks om kool ten minste twee keer per week te eet nie. Soms het mammie vir ons die kool met uie en aartappels gaargemaak….soms het sy hierdie kool souttert gemaak…of haar heerlike mosterd koolslaai. Punt is, kool kan heerlik en geuriger aangebied word, sonder om die smaak en die geur te verbloem, maar dit eerder te komplimenteer. Ek het gevind dat neutmuskaat en tiemie perfekte pasmaats is vir hierdie gereg en glo vir my, daar bly nooit ’n krieseltjie oor. Die braai van die kool bring die natuurlike soetheid van hierdie groente navore en met die braai in die spek se olie, deur drenk dit die kool met heerlike geure.
250 g repies spek, gebraai en dan gesnipper
500 g kopkool afgeweeg en dan gesnipper
3 medium rooi uie, ringe gesny
1 t knoffel, fyn gedruk
4 e olyfolie
250 ml room
2 eiers
¼ t neutmuskaat
1 t tiemie, gedroog
1/4 t sout
peper na smaak
½ k brood krummels
1 k cheddar kaas, gerasper
Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer ’n vuurvaste bak (25 cm deursnit vir pan) met koekepan smeer op p.11 van Boerekos met ’n Twist se kookboek. Plaas eenkant.
Braai die repies spek in eie vet tot bruin en bros, kap dan die spek grof op. Voeg die olyfolie in dieselfde pan en braai die uie en kool tot sag vir ongeveer 5-8 minute. Voed die knoffel by en roerbraai vir ’n verdere minuut. Voeg driekwart van die spek by die mengsel en roer goed deur.
Skep die gebraaide kool in die voorbereide oondskottel. Meng die room, eiers, neutmuskaat, tiemie, sout en peper saam. Giet oor die kool en sprinkel mildelik met kaas, gevolg deur broodkrummels en weer spek.
Bak vir 30 minute by 180 ℃ tot bruin en bros.
Bedien as bykos of ete op sy eie.
Hoeveelheid: 4 porsies, resep verdubbel met gemak.
Bron: Annelien Pienaar, 2017, Groente 101 werkswinkel.
Ek eet baie graag enige iets wat na kool lyk en ruik. Toe ek swanger was met my seun het ek altyd ñ kleinbordjie en vurk langs die kool kastrol neergesit, as die kool begin gaar wor en die blare so glansend en bros is, het ek begin eet, so my arme man het net altyd die reuk gekry.
Daar is niks so lekker soos kool wat vars opgekook of gebraai is…dit het net ‘n ongelooflike natuurlike soetheid. groete A
Dit lyk baie lekker
Geniet Anette! Groete Annelien Pienaar
Hierdie vanaand gemaak en dis ‘n absolute wenner. Selfs my groente-bestande oudste het dit verorber. Gaan hom beslis weer doen. Dankie, Annelien.
Hallo Hanno, lekker om van jou te hoor. Sien julle woon nou in die buiteland…Wel, hierdie is ook een van my gesin se gunstelinge! BKT groete en hoop jy Twist sommer heerlik saam. Annelien
Annelien die lyk heerlik. Ek het gister n vars koolkop gekoop en dit is presies wat ek daarmee gaan doen. Ekt gelees kanker haat kool dus eet ons gereeld n koolgereg of slaai. Baie dankie
Annelien, kan ek hierdie gereg vries? Indien wel, gebak of ongebak?
Dankie vir al jou hulp
Christa, vries ongebak. Groete Annelien