
Sampioenroomsop sal nooit weer dieselfde wees na hierdie resep. Die kombinasie van ’n geurige sampioen (selfs wilde sampioene werk puik) met Stilton en witwyn is een wonderlike kombinasie. Binne 30 minute is jy gereed vir eet.
50 g botter
1 groot ui, fyngekap
1 knoffel toontjie, fyngemaak
400 g bruin sampioene, gesny
1 liter hoender aftreksel of groente aftreksel
1 loerier blaar
1 medium aartappel, gaar fyngemaak
50 g stilton kaas
125 ml chardonnay of enige witwyn van goeie kwaliteit
65 ml (4 e) room
1 e tiemie gedroog
sout en peper na smaak
Braai ui in botter in diep kastrol vir 5 minute tot glansend en deursigtig, voeg die knoffel by en braai vir 2 minute.
Voeg die aartappel, aftreksel, ¾ van die sampioene, lourierblaar by en kook vir 15 minute. Haal van hitte en voeg die kaas en tiemie by. Haal lourierblaar uit en puree die mengsel tot glad.
Braai die oorblywende sampioene met 1 e botter vir 5 minute. Voeg dan by die sampioen puree en verhit vir 5 minute. Voeg room en wyn by. Bedien dadelik.
Bron: Annelien Pienaar, 2017, Sop en Sjerrie kookklas te Bos en Berg gasteplaas
Hoeveelheid: 6 porsies
Hierdie resep is ‘n wenner!
Ek is maar ietwat versigtig vir blou kaas, maar hierdie kombinasie is ONGELOOFLIK!
Dankie vir ‘n heerlike en maklike resep Annelien.
Ek is ook maar self skrikkerig vir Bloukaas omdat dit maklik soos seep kan smaak. Ek het met hierdie resep geproe tot dit perfek was. Dus, kaas dit en geniet dit vanaf die BKT toetskombuis. Groete Annelien