Soms gebeur dit dat jy inderhaas gou ‘n ligte ete vir kuiergaste moet voorsit. Hierdie resep het my meer as eenkeer uit gehelp. Die korsie is ook baie maklik. Word in die pan gedruk en met die vulsel gebak, geen blindbak of tydrowende proses nie.Nou goed ek weet jy gaan dalk dink dit is nie so maklik om witsous te maak nie, maar raai wat? Dit is! Daar is twee maniere hoe jy witsous kan maak. Die eerste een is die Witsous Bêre mengsel wat op die blog is. Dit het reeds melkpoeier, margarien en koekmeel in. Jy gooi net water by en in ‘n kits het jy ‘n klont vrye witsous. Die tweede manier gaan ek nou vir julle met die resep verduidelik. Die geheim? Ballon klitser / whisk en jou mikrogolf oond en voila!

Kors
1 k koekmeel
1 k gerasperde kaas
1 k gerasperde koue botter

Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en meng totdat dit soos broodkrummels lyk.

Druk die krummels in ‘n gesmeerde terbak van jou keuse vas of kleiner porsies van jou keuse.

Witsous
250 ml melk
30 ml koekmeel
30 ml botter
250 ml kaas – gerasper
2 ml neut muskaat
Sout en peper na smaak

Plaas die botter in ‘n glasbak en verhit in die mikorgolf vir 30 sekondes totdat die botter gesmelt is.

Neem nou ‘n whisk en klop die meel goed by die botter.
Draai weer vir 30 sekondes en stop.

Voeg nou die melk by en klits goed deur met whisk totdat al die meel goed versprei is in die melk. Mikrogolf vir 1 minuut, haal die bak uit en klits weer deeglik deur met die whisk.
Doen hierdie proses totdat die mengsel goed verdik het. Sal ongeveer 5 minute neem. Nooit weer sal jy witsous hê wat aanbrand nie!
Gooi die kaas by en klits goed deur.

Vulsel
500 g hoender vleis – klaar gaar (oorskiet werk wonderlik)
250 ml room
250 ml witsous – effens afgekoel (sien resep)
4 eiers
250 g knopies sampioene, gebraai in botter tot vog verdwyn
1 t Knoffel
2 e Dill
Sout en peper na smaak

Voeg al die bestanddele saam en meng baie goed deur. Skep in voorbereide kors en bak vir groot terte teen 180C vir 45 minute en individuele porsies: 180C vir 25 minute.

Bron: Annelien Pienaar
HOEVEELHEID: 8 porsies.