
My Ma het maar net ‘n hand met terte gehad. Een daarvan was ‘n Peperment crisp tert! Ek en my sussie is in dieselfde jaar gebore en ons is vir 2 maande saam ewe oud. My sussie verjaar die 26ste. Desember en glo my, ons vier behoorlik fees. Ek onthou hoe dit altyd ‘n instelling was van my Ma om hierdie lekker tert van haar te maak wanneer dit my sussie se verjaardag was. Ons het nooit deur die jaar hierdie tert gekry nie, net op Maryke se verjaardag!
My Ma het altyd bietjie gelatien by die room geklits sodat dit stabiel kan bly as dit by tye buite moet staan. Omdat sy kanker gehad het, het sy ons vermaan om van kunsmatige room af weg te bly, daarom dat die resep regte room bevat. Verder as die room gestabiliseer is, kan dit in rosies gespuit en bevries word. Later haal jy dit uit om op koffie, mousse, koeke en vele meer te bedien sonder dat dit pap sal word. Sy was darem maar so ‘n slim en fyn vroutjie!
1 t Gelatien gesprinkel oor 50 ml water en vir 5 minute gelos
500 ml Vars room – nie die lang lewe soort nie (ek gebruik geen kunsmatige room)
2 blikkies Karamel treat
4 Pepperment crisps – gerasper of groot plakkie (slab)
2 pakkies Tennisbeskuitjies
Smelt die gelatien deur dit of in ‘n bakkie kook water te sit of baie versigtig in die mikrogolf oond.
Klits dan die room tot effens styf en begin om die gelatien in ‘n dunstraaltjie by te klop.
Hou aan klop totdat die room lekker styf is en jy die klitser se merke sien bly in die room.
Onthou as jy te lank klits gaan jy botter maak!
Meng nou die karamel treat by die room asook ¾ van die sjokolade.
Pak koekies in ‘n tertbak uit en skep van die mengsel oor totdat die bak halfpad vol is.
Pak dan nog ‘n laag koekies en maak die res van die bak vol met die room mengsel.
Sprinkel die oorblywende sjokolade bo oor en laat dit in die yskas om te set.
BRON: Hantie Bezuidenhout, Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguesfarm.co.za
Hoeveelheid: 8 porsies
Annelien kan ek die gestabiliseerde room soos in dié resep gebruik om rosies te spuit en te vries. Ek hou daarvan om koffie vir gaste met iets mooi voor te sit en die rosies is ‘n pragtige idee. Soms doop ek mooi teelepeltjies in sjokolade sodat die koffie daarmee geroer kan word. Wil beslis die rosies maak
Jy kan en dit kom prentjie mooi uit. Geniet en kom spog op die Boerekos met ‘n Twist FB groep. Groete Annelien
Hi Annelien,
Ek wil net seker maak oor die pepperment crisps, is dit vier klein “slabs”? Of groot slabs?
Dit is4 x 80 g klein of 1 groot slab.