Growwe Klapper en Bessie beskuit

Growwe Klapper en Bessie beskuit

Hierdie beskuit bevat bestanddele wat genoeg vitamiene en minerale bevat wat jou brein nodig het om optimaal te funksioneer. Elke dag gaan ons liggame deur ongelooflike baie spanning en die brein is die sentrum wat al hierdie spanning eerstehands prosesseer. Omega olies in die daaglikse dieet is van kardinale belang, omdat dit die geleiding van impulse (boodskappe) tussen breinselle laat plaasvind. Wanneer jy ‘n tekort het, sal jy vergeetagtig raak en selfs uitgebrand voel. Dus, kan mens op ‘n natuurlike manier hierdie aspek aanspreek deur die gebruik van roulynsaad (flaxseeds) en enige verwerkte produk daarvan. Lynsaad bevat goeie kwaliteit omega’s en wat ook vir die liggaam makliker herkenbaar en verteerbaar is.

Dan moet ‘n mens ook nie die waarde van neute en bessies uit die oog verloor in beskuit. Pekan neute bevat Foliensuur (folic acid) wat ook baie belangrik is vir die brein om te funksioneer. Volgrane bevat foliensuur ook in die kiem gedeelte en wit koringmeel geen, tensy jy steengemaalde meel sou gebruik. Melasse suiker (treacle sugar) is ’n beter opsie, maar wel effens duurder, om te gebruik as versoeter in die beskuit. Dit bevat ook goeie mikrobes vir die maag. Die kombinasie van karringmelk, steengemaalde meel, sade en bessies, lewer op die ou end, tog ‘’n gesonde happie vir ons gesin. Ja en hier kom die maar, MATIGHEID voor oë. Een beskuitjie is uiters versadigend en genoeg om jou vir drie ure te hou. Kom laat ons bak!

300 g melasse suiker (treacle sugar)
500 g botter (kan verminder word na 350 g), alternatief: bakkers margarien
2 ekstra groot eiers, geklits
500 mℓ (2 k) gewone Griekse joghurt
1 kg koekmeel, steen gemaal, Eureka Mills
1 t fyn kaneel
20 mℓ (4 t) bakpoeier
5 mℓ (1 t) koeksoda
5 mℓ (1 t) sout
200 g (4 k) bran flakes
60 g (2 k) semels (bran)
80 g flaxseed gemaal *
100 g growwe klapper skaafsels
100 g (1 k) pekans, gekap
100 g (1k) gedroogde bessies of vrugte van keuse bv. rosyne, pruimedante, bosbessies, cranberries, gedroogde piesang is ook heerlik.

Smelt botter en melasse suiker saam sodat die botter net gesmelt is. Die suiker sal wel nog korrelrig vertoon, moenie kommer. Laat afkoel en voeg eers joghurt by en klits deur en daarna eiers. So voorkom jy dat as die mengsel dalk te warm is, eiers nie skif.

Sif koekmeel, kaneel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Meng dan die res van die bestanddele by en maak seker alles is eweredig versprei.

Maak holte in die meelmengsel en voeg die karringmelk mengsel by en roer met houtlepel totdat al die bestanddele begin aan mekaar klou. Onthou, met vinnige deegsoorte soos bakpoeier beskuit moet die deeg nie oorwerk word nie, anders sal die eindproduk hard wees. Dit gebeur omdat gluten ontwikkel word. Daar kan dus nog droë meel op die volgraan pap vlokkies wees.

Druk in plat beskuit pan met afmeting van ongeveer 35 cm x 45 cm. Druk met afdrukker of sny met groente messie in vingers. Bak by 180 ℃ vir 35 minute. Laat beskuit in die pan afkoel. Sny dan binne-in die pan in vingers. Skep uit en pak in oond op bakplate sodat daar ‘n vinger spasie tussen elke beskuit is. Droog vir 5 – 8 ure by 115 C. Onthou kus streke gaan effens langer droog.

*Flaxseeds: Natures choice, heel of gemaal
Beskuit panne met drukker: PanneMerwe op Faceboek

Bron: Annelien Pienaar, 2017, Uittreksel uit: Breinkos klas.
Hoeveelheid: 6 x 13 rye = 78 beskuitjies

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-06-19T19:03:29+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Tokkie Taylor June 20, 2017 at 6:59 am - Reply

    Lyk heerlik gaan more vir die kleinkinders maak. Ek het altyd die “flaxseed” heel gebruik in my beskuit maar toe gelees al die voedingswaarde is in die gemaalde saadjies, gebruik sommer my koffiemeul masjientjie en ook geleer om die meel in die yskas te hou .

    • Annelien June 20, 2017 at 8:51 am - Reply

      Altyd lekker en geniet. Groete Annelien

Leave A Comment